Verbruikers moet nie munisipale begroting sommer net aanvaar nie

2017-04-05
Dévar Smit

Die begrotingsprioriteite van die ANC-regeerde Mangaung-metromunisipaliteit (Bloemfontein) is nie in lyn met die behoeftes van die gemeenskap van Mangaung nie, aldus Dévar Smit, VF Plus-raadslid in die metro.

Die konsepbegroting van die munisipaliteit is vandag gedurende ‘n spesiale raadsvergadering ter tafel gelê en is vir openbare insae verwys. Volgens Smit is die voorgestelde tariefverhogings, van onder andere 7.96% vir water en 7.64% vir elektrisiteit nie in lyn met inflasie nie en sal dit ‘n onbekostigbare las op die reeds vuisvoos betalende verbruiker plaas.

Die munisipaliteit behoort sterker klem te lê op die invordering van debiteure en die beperking van water- en elektrisiteitsverliese. Die verhoging van tariewe is nie die oplossing nie. Dit oorbelas betalende verbruikers, skep nog meer wanbetalers en kan nie die algehele skuldlas van die munisipaliteit verlig nie.

Die VF Plus kan nie ‘n begroting ondersteun wat voorsiening maak vir luukse uitgawes terwyl die infrastruktuur- en diensleweringsnood in die munisipaliteit so agterweë gelaat word nie.

Smit het ‘n beroep op alle inwoners van die metro gedoen om die openbare verhore oor die munisipaliteit se konsepbegroting by te woon en insette te lewer.

“Dit is van kardinale belang dat ons as gemeenskap nie die huidige vergrype en verkeerde prioriteite goedsmoeds aanvaar nie, want ons as verbruikers betaal daarvoor,” het hy gesê.



Kontakbesonderhede: 084 206 3375 / 082 674 6670


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!