Veel kan gedoen word om parlement beter te laat funksioneer

2021-06-01
Dr Corné Mulder

(Begrotingsposdebat in parlement: Parlement)

Veel kan gedoen word om die parlement van Suid-Afrika beter te laat funksioneer en daarmee saam sy baie belangrike oorsigrol te verbeter.

Die Grondwet van Suid-Afrika maak dit in Artikel 42(3) duidelik wat die parlement van Suid-Afrika se plig en verantwoordelikhede is. Die parlementslede verteenwoordig die mense van Suid-Afrika en hulle het sekere pligte soos die verkiesing van ’n president, die bespreking van sake van belang, wetgewing en om die regering verantwoordbaar te hou.

Parlementêre portefeuljekomitees speel ’n belangrike rol hierin, maar hulle werksaamhede word volgens die VF Plus grootliks ondermyn aangesien die uitvoerende- en wetgewende gesag te nou verweef is.

Tans is 74 lede van die regerende party se parlementslede ook deel van die wetgewer. ’n Groter skeiding sou daartoe bydra om beter oorsig oor die uitvoerende gesag te hê. ’n Voorbeeld is die twee komitees oor Nkandla wat ’n gebrek aan politieke wil getoon het om op te tree.

Die regering het hom later hieroor probeer verontskuldig deur te sê die parlement het in sy oorsigrol gefaal. Dit was nie die parlement as sulks nie, maar lede van die regering wat op die betrokke komitees gedien het. Hierdie dinamika ondermyn verantwoording tot ’n groot mate.

’n Meganisme wat ook weer gebruik kan word om debatvoering te verbeter, is interpellasie, ’n korter vorm van debatvoering deur vrae wat lei tot groter interaksie en daarom beter verantwoording van die uitvoerende gesag.

Die vorm van die huidige debatvoering gee aan lede van die uitvoerende gesag ’n geleentheid om vrae te ontduik wat tot groot frustrasie lei aangesien dit verantwoordbaarheid ondermyn.

Nog ’n probleem is die aantal begrotingsposdebatte wat tans in ’n kort tydperk gedebatteer word, in sommige gevalle tot ses per dag. Dit is baie belangrik, maar word weens die tyddruk afgestoomroller sonder dat sinvolle en diepgaande debat oor begrotings gevoer word.

Die VF Plus is ook van mening dat die tyd aangebreek het om, met die regte protokolle in plek, ‘n groter teenwoordigheid van lede by die parlement te hê.

Die huidige situasie ontsê parlementslede van uiters belangrike interaksie wat nodig is om dié instelling sinvol te laat funksioneer.



DrCornéMulderParlementStaatskapingVerantwoordbaarheidUitvoerendegesag

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!