VBS: Verantwoordelikes se sakke moet geskud word

2019-11-07
Mnr. Michal Groenewald

Patronaatskap van die ANC mag nie ‘n paspoort wees om straffeloos by ernstige wandade betrokke te wees nie.

Alhoewel die ouditeur-generaal (OG) nou bevind het dat die R1,6 miljard wat munisipaliteite by die VBS Bank belê het waarskynlik nie verhaal sal kan word nie, dring die VF Plus daarop aan dat amptenare wat betrokke was vervolg word en dat die geld van hulle persoonlik verhaal moet word.

Wat by die VBS gebeur het, is ‘n goeie en duidelike bewys dat korrupsie en bedrog ‘n direkte impak het op veral die armste van armes, aangesien die R1,6 miljard aangewend moes word om dienste aan alle gemeenskappe te lewer.

Dit het nie gebeur nie en daar is al wyd gerapporteer oor hoe die geld in die sakke van onder andere sekere politici beland het. Ε‰ Skatryk groepie kaders is bevoordeel ten koste van die armes.

Die regering moet wys hy is ernstig oor sy bestryding van misdaad en korrupsie deur nie net op te tree teen die skuldiges in die VBS-skandaal nie, maar alle korrupsie en bedrog, ongeag hoe gering, moet uitgewis word deur werklike vervolging en optrede weens die direkte gevolg daarvan.

Volgens die OG was die grootste deel van die VBS-geld afkomstig van ‘n georganiseerde skema waar geld onwettig deur munisipaliteite by VBS “belê” is. Die res was van die beleggings is verkry by arm, weerlose mense.

Die impak op die betrokke munisipaliteite en hul gemeenskappe is enorm. Die verliese raak nie net geld wat vir groeigerigte infrastruktuurprojekte geoormerk was nie, maar ook geld vir basiese dienste en lopende uitgawes.

Wat hier gebeur het is een die ergste gevalle van georganiseerde misdaad in die land se geskiedenis en net daadwerklike optrede en swaar strawwe sal Ε‰ duidelike boodskap uitstuur dat geen vorm van misdaad geduld sal word nie, ongeag of dit gepleeg is deur ANC-kaders of nie.


Kontaknommer: 079 409 8342

MunisipaliteiteMichalGroenewaldVBSBankVBS

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!