VBS – Betrokkenheid van die ANC en EFF moet in die kollig kom

2020-06-17
Mnr. Michal Groenewald

Die VF Plus verwelkom die inhegtenisneming van agt kern-rolspelers in die VBS-bedrogsage van meer as R2 miljard, maar dit is nou belangrik om ook optrede te sien teen bekende persone en ampsdraers in die ANC en die EFF wat glo voordeel getrek het uit die geld wat deur VBS gestroop is.

Vrae oor die betrokkenheid van, en optrede teen die EFF se leier en onderleier, Julius Malema en Floyd Shivambu, is vandag gevra ten tyde van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se mediakonferensie oor die aangeleentheid

Vae ontkennings oor dié twee persone en ANC-ampsdraers se betrokkenheid sal nie die VF Plus of die publiek tevrede stel nie en die party sal daarop aandring om uit te vind presies wat hul betrokkenheid in die aangeleentheid is.

Die VF Plus dring ook daarop aan dat alle persone wat verantwoordelik was vir beleggings wat die onafhanklike beleggingskorporasie (OBK) met geld van die staatsdiens-pensioenfonds by VBS gemaak het, verantwoording doen.

Alle betrokkenes by die OBK, insluitende direkteure, lede van die beleggingskomitee, die waardering-subkomitee en ander, moet persoonlik aanspreeklik gehou word vir gelde wat deur beleggings by VBS verloor is indien hulle bewus was van ongerymdhede maar dit verswyg het.

Dit is bekend dat heelwat van die munisipale amptenare wat by die sindikaat geïmpliseer is, vir maande reeds met betaalde verlof is weens dissiplinêre aksies wat nie gefinaliseer word nie.

Hulle ontvang dus goue handdrukke wat gefinansier word deur dieselfde gemeenskappe wat onder hul beweerde misdadige optrede gely het en optrede teen dié persone moet so as moontlik gefinaliseer word.

Dit is wel verblydend dat die owerhede reeds beslag gelê het op die bates van sommige van die persone wat in hegtenis geneem is.

Adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) en haar span ondersoekers moet seker maak dat nie een van die beskuldigdes toegelaat word om hul luukse leefwyses voort te sit met geld en bates wat onregmatig van hierdie arm gemeenskappe en munisipaliteite gestroop is nie.


Navrae: 079 409 8342

MichalGroenewald#ANC#VBSBank#EFF#JuliusMalema#FloydShivambu

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!