Vaalrivier-besoedeling: VF Plus versoek adjunkpresident om in te tree

2020-07-01
Phillip van der Merwe

Die Ngwathe-plaaslike munisipaliteit (Parys, Vredefort, Heilbron, Koppies, Edenville) word weens Eskom se weiering om substasiekapasiteit te vergroot, genoodsaak om hom skuldig te maak aan die besoedeling van die Vaalrivier deur verpligte beurtkrag toe te pas.

Benewens die ekonomiese impak wat deurlopende beurtkrag op die plaaslike ekonomie het, word sommige noodsaaklike dienste soos hospitale, rioolpompe, watervoorsiening en rioolbehandelingsaanlegte óók noodwendig van elektrisiteitstoevoer afgesny.

Rioolvuil, wat ook bloed uit plaaslike abattoirs bevat, vloei weens rioolpompe wat staan as gevolg van beurtkrag, direk in die Vaalrivier in wat groot gesondheidsrisiko's vir inwoners sowel as die omgewing inhou. Die Vaalrivier is 'n noodsaaklike waterbron wat water aan miljoene Suid-Afrikaners verskaf.

Beurtkrag word in hierdie munisipaliteit geïmplementeer omdat die huidige elektrisiteitsverbruik van die munisipaliteit die kapasiteit wat die Eskom-substasie tans kan lewer, oorskry.

Die enigste blywende oplossing hiervoor is om die kapasiteit van die substasie te vergroot. Eskom is egter nie geneë daartoe nie, tensy die munisipaliteit sy totale uitstaande rekening vereffen, alhoewel die munisipliteit sy betalingsooreenkoms met Eskom nakom.

Eskom vereis onverbiddelik dat die totale uitstaande bedrag ten volle betaal word voordat daar enigsens onderhandel kan word oor die kapasiteitverhoging by sy substasie. Hierdie houding verplig die munisipaliteit om beurtkrag toe te pas ten einde te verhinder dat Eskom se substasie oorlaai word en, soos wat ‘n rukkie gelede gebeur het, weer ontplof.

Die besoedeling van die Vaalrivier is onaanvaarbaar, veral in ag genome die huidige Covid-19-pandemie, en daarom het die VF Plus ‘n skrywe gerig aan die adjunkpresident, David Mabuza, om dringend in te gryp en behulpsaam te wees met die stopsit van die besoedeling van die Vaalrivier.

Die regering skuld homself nie net geld nie, maar laat toe dat die omgewing en die ekonomie daaronder ly.

Kontaknommer: 082 380 0753

VrystaatEskomPhillipVanDerMerweNgwatheRioolbesoedeling

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!