Vaaldriehoek-rioolkrisis kan suksesvol opgelos word

2019-10-26
Me. Amanda de Lange

‘n VF Plus-afvaardiging het vandeesweek met verskeie kundiges en sakelui vergader om alternatiewe oplossings te bespreek vir die Vaal-rioolkrisis. 

Hierdie belangegroep het ook na oplossings gesoek om die Emfuleni-munisipaliteit, waar die rioolkrisis buite beheer is, te help met kostebesparing.

Die voorgestelde plan maak voorsiening vir duisende werksgeleenthede, veral vir vroue om hulle te help om die finansiële druk op hul huisgesinne te verlig.

Die geskikte stelsel word tans op plekke in Afrika, Amerika en Europa met groot sukses gebruik en maak voorsiening vir ʼn suiwering- en herwinningsaanleg waar riool volgens die wêreld se gesondheidstandaarde tot só ‘n mate gesuiwer word dat dit vir landboudoeleindes aangewend kan word.

Die VF Plus-wetgewerlede en -raadslede is al ʼn geruime tyd besig om die rioolkrisis te ondersoek om die omvang van die probleem te bepaal.

Tydens ‘n oorsigbesoek het hulle onder meer pompstasies, rioolsuiweringswerke, stukkende pypleidings, private grond waardeur riool vloei, oewer-restaurante, hotelle, satelliet-weermagkampe, riviere en spruite besoek.

Die VF Plus was ʼn maand gelede ook deel van die portefeuljekomitee vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) wat van die probleemareas besoek het. Die VF Plus het daarna besluit om op sy eie ‘n oorsigbesoek aan die gebied te bring en na werkbare oplossings te soek.

Cogta het na raming bepaal R5 miljard is nodig om die verouderde rioolnetwerk en -suiweringsaanlegte te herstel om teen volle kapasiteit te funksioneer.

Die feit dat die sukkelende Emfuleni-munisipaliteit nie in staat is om die probleem sonder die hulp van die Gauteng-provinsie en nasionale tesourie op te los nie, het gelei tot ‘n besoek van adjunk-president David Mabuza aan die munisipaliteit.

Daar word ook gewag op ʼn aankondiging van president Cyril Ramaphoza oor die aangeleentheid, maar tot dusver is daar geen reaksie nie. Die VF Plus is van mening die ANC-regering self het ook nie werkbare oplossing vir die probleem nie.

Die VF Plus se provinsiale- en nasionale strukture sal ʼn omvattende plan aan die regering vir oorweging voorgelê.

Die party glo die rioolkrisis kan opgelos word, maar die politieke wil is nodig om die wiel aan die rol te sit en die weg te baan vir vernuwende oplossings wat nie net finansieel haalbaar is nie, maar ook werksgeleenthede aan baie kan bied.


Kontaknommer: 066 010 1053

AmandaDeLangeRioolVaalrivier

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!