uMhlathuze-munisipaliteit moet rasse-aanstellings dringend hersien

2022-11-21
Anneke Lange

ʼn Verslag van die uMhlathuze-plaaslike munisipaliteit (Richardsbaai / Empangeni) wys dat mense uit minderheidsgroepe beduidend onderverteenwoordig is in die munisipaliteit se werkerskorps.

Die verslag het voor die munisipaliteit se portefeuljekomitee oor korporatiewe dienste gedien.

Die munisipaliteit het 2 095 personeellede in diens waarvan slegs 76 (3,63%) wit is. Daar is 54 (2,58%) Indiër- en 13 (0.62%) bruin-personeellede in diens.

Volgens syfers van 2011 is die rassamestelling van uMhlathuze soos volg:

• Swart: 87.7%
• Bruin: 0.9%
• Indiër: 3.8%
• Wit: 7.3%

Die munisipaliteit se regstellende aksieplan (RA-plan) vir die afgelope vyf jaar maak voorsiening daarvoor om die verteenwoordiging van die verskillende rassegroepe in die werkerskorps reg te stel.

Die RA-plan is tans in sy vyfde jaar en eindig Junie 2023. Die vorige ANC-beheerde raad het dié betrokke plan opgestel.

Die munisipaliteit het self reeds erken dat swart personeel oorverteenwoordig is en dat die teikens om meer personeel uit minderheidsgroepe aan te stel nie bereik kon word nie.

Die onderneming is weer gegee dat die saak in die laaste jaar van die RA-plan (Julie 2022-Junie 2023) reggestel sal word, maar die doelpale is nou verskuif.

In die jongste kwartaalverslag van korporatiewe dienste wat in September vanjaar uitgereik is, word gesê die onderverteenwoordiging sal nou in die volgende vyf jaar se RA-plan behandel sal word.

Die VF Plus het ernstig beswaar hierteen gemaak en dring daarop aan dat daar sonder uitstel begin word om gelyke verteenwoordiging te skep soos daar onderneem is om te doen.

Die party het ook ʼn brief aan die munisipale bestuurder, mnr. Nkosenye Zulu, geskryf om beswaar aan te teken teen die besluit.

Die VF Plus glo aanstellings moet geskied op grond van meriete ongeag velkleur, maar dat daar ook nie teen minderheidsgroepe gediskrimineer moet word op grond van hul velkleur nie.

uMhlathuze-munisipaliteitAnnekeLAngeRasse-aanstellings

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!