Uittreksel uit begrotingsdebat van die Vrystaatse departement van gesondheid - Vrystaatse gesondheidsdepartement is self in ‘n bedenklike toestand

2019-07-11
Dévar Smit

Indien die Vrystaatse regering nie dringend ingryp by gesondheidsorg in die provinsie nie, sal die Vrystaatse premier se visie van ‘n ‘droomprovinsie’ ook net ‘n droom bly.

Die Vrystaatse departement van gesondheid gaan in die komende finansiële jaar sy aandag daarop moet fokus om ‘n tekort aan personeel aan te spreek. Die tekort kom voor in alle afdelings, van portiere en administratiewe personeel tot by verpleërs, dokters en spesialiste.

Wat die premier ag as suksesse om 22,1% nuwe dokters en 9,88% nuwe verpleeglui aan te stel, is werklik nie iets om op trots te wees nie. Gesondheidsorgwerkers bly onder druk weens ‘n gebrek aan ondersteuningspersoneel.

Infrastruktuur en die onderhoud daarvan in staatshospitale is kommerwekkend. Die verval van geboue, die algemene agteruitgang van waterpype, gastoevoer en basiese onderhoud mag nie langer geduld word nie.

Met baie min tot geen hulp wat verleen word vanaf Bophelo House, word dokters genoodsaak om onder hierdie omstandighede te werk en dit skep ‘n geweldige risiko vir siek en beseerde pasiënte.

Almal het die reg op goeie mediese dienste. Die gesondheid van die inwoners van die Vrystaat moet ‘n prioriteit wees en nie ‘n politieke speletjie waar kaders voordeel trek en onskuldige mense doodgaan nie.

Dit is die Vrystaatse regering se plig om die beste sorg daar te stel en die VF Plus sal aanhou om die regering verantwoordbaar te hou.


Kontaknommer: 084 206 3375

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!