Tweeling reeds vyf dae sonder water

2022-11-18
Joep Marais

Die inwoners van Tweeling in die Vrystaat sit reeds vir vyf dae sonder ʼn druppel water in hul krane weens ʼn stukkende munisipale waterpomp.

Die Mafube-plaaslike munisipaliteit, wat Tweeling, Frankfort, Villiers en Cornelia bedien, versuim bloot om die diensverskaffer wat die pomp moet versien, se uitstaande rekening te betaal.

Volgens mnr. Thomas Mkhaza van die provinsiale intervensiespan, is waterkarre vir die inwoners beskikbaar gestel, maar teen Vrydagoggend was daar steeds geen teken daarvan in die dorp nie.

Verskeie inwoners, asook een van die kerke voorsien tans deur middel van boorgate water aan die inwoners. Die VF Plus bied ook ondersteuning in die verband.

Die VF Plus het ʼn dringende beroep gedoen op die Vrystaatse LUR vir samewerkende regering, mnr. Mxolisi Dukwana, om in te gryp.

Wat hier gebeur is ʼn vertrapping van die inwoners van Tweeling se basiese mensereg van toegang tot water. Die VF Plus sal aanhou om druk hieroor uit te oefen.

Die provinsiale regering is tans besig met ʼn intervensie ingevolge Artikel 139(5) van die Grondwet wat ʼn finansiële herstelplan behels, soos vroeër vanjaar deur ʼn hofbevel gelas.

Dit is die tweede keer die afgelope vyf jaar dat die provinsiale regering by hierdie munisipaliteit moet ingryp en klaarblyklik misluk.

Die ANC-beheerde munisipaliteit laat inwoners vir jare reeds in die steek wat die voorsiening van basiese dienste betref. Nie eens die provinsiale regering kan daarin slaag om die munisipaliteit te red nie.

Die inwoners van Mafube en die Vrystaat verdien beter as die ANC.



 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!