Tweede plaasaanval in een week in klein Vrystaatse gebied

2020-02-26
Jan van Niekerk

Die jongste plaasaanval in die Vrystaat op mnr. Japie van den Berg op sy plaas Hillbrow in Vierfontein, beklemtoon die noodsaak vir meer effektiewe landelike beveiliging. Dit is die tweede ernstige plaasaanval in ‘n relatiewe klein gebied in die Vrystaat in die afgelope week.

‘n Familielid van mnr. van den Berg is onlangs wreedaardig op sy plaas in Wesselsbron aangeval deur ‘n persoon wat op borgtog vrygelaat is. Hy is intussen in ‘n motorongeluk oorlede.

Pres. Cyril Ramaphosa het onlangs belowe om die strafregstelsel te laat hersien om die paroolstelsel moontlik aan te pas om toe te sien dat veroordeelde misdadigers nie op vrye voete weer geslagsgeweld pleeg nie.

Die politieke wil bestaan duidelik om geslagsgeweld te bekamp, maar die uitroepe na landelike beveiliging val op dowe ore. Dit is onaanvaarbaar dat die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, geensins na landelike beveiliging verwys het in haar provinsiale rede nie.

Die VF Plus is van mening dat die antwoord voor die hand liggend is. Die oomblik wanneer die politieke wil gaan ontstaan om landelike gebiede te beveilig en behoorlike strafmaatreëls in plek te stel, sal daar ‘n drastiese afname in plaasaanvalle- en moorde wees.

Die VF Plus veroordeel alle moord en geweld in Suid-Afrika, maar veral geweld op die landbougemeenskap vanweë die weerloosheid van die landelike gemeenskap. Landelike gemeenskappe is weerloos en afgeleë en moet met tye vir etlike ure wag vir hulp vanuit stedelike gebiede.

Die VF Plus het nog altyd erns gemaak met plaasaanvalle en beywer hom daarvoor om volgehoue druk op die regering te plaas om plaasaanvalle tot prioriteitsmisdaad te laat verklaar.

Die VF Plus spreek sy innige simpatie uit teenoor die slagoffer, familie en vriende en wens hom ‘n spoedige herstel toe. Die party sal die nodige hulp verleen om te verseker dat die skuldiges opgespoor en vervolg word sodat geregtigheid geskied.


Kontaknommers: 083 743 2042 / 082 308 9567

 

VrystaatJanVanNiekerkPlaasaanval

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!