Die huidige staking by Transnet kan motoriste en padvervoermaatskappye ernstig beïnvloed as 'n ooreenkoms nie binnekort gevind word nie.
Ru-olie, diesel en petrol word met Transnet se pyplyne (voorheen bekend as Petronet) van Durban na die binneland vervoer.
Die pypnetwerk deurkruis KwaZulu-Natal, die Vrystaat, Mpumalanga, Gauteng en Noordwes.
Al die groot brandstofmaatskappye ontvang brandstof uit hierdie pyplyn en binnelandse logistiek kan erg ontwrig word as die staking voortduur.
Die VF Plus het verneem dat omsigtigheidsaanbevelings aan dié maatskappye uitgestuur is. Terwyl paniekaankope 'n onnodige krisis kan skep, moet diegene wat dringende en noodsaaklike ritte voorsien, verseker dat hulle voertuie voldoende brandstof het.
Indien padvervoer benadeel word, kan die verspreiding van vars produkte ook in die slag bly.
In Suid-Afrika, waar min huishoudings self kos produseer en landbouprodukte oor lang afstande versprei word, kan dit tekorte tot gevolg hê.
Die staking is die gevolg van 'n loongeskil, terwyl Transnet nog steier onder die gevolge van staatskaping.
Om die Bybelse beeld te gebruik, word verbruikers aangemoedig om ekstra olie vir hulle lampies te koop, maar nie soveel dat ander niks kan kry nie.