Toespraak in die debat oor die verdeling van inkomste (begroting) in die parlement): ANC-beleid stuur af op rampspoed vir Suid-Afrika

2019-03-14
Wouter Wessels

Die ANC se beleid en sy onbevoegdheid om te regeer het rampspoedige gevolge vir Suid-Afrika gebring en die land kan net gered word deur ʼn nuwe beleid en denkrigting soos dit wat die VF Plus bied om die krisis die hoof te bied.

Die ANC en sy leiers is totaal uit voeling met hierdie realiteit en met die arm mense van Suid-Afrika. Hulle praat van ʼn verenigde Suid-Afrika wat die ANC gebou het. Dit is vals. Die waarheid is dat die ANC juis ʼn verenigde Suid-Afrika in die wiele ry.

Die ANC het Suid-Afrika groot skade berokken deur ʼn korrupte politieke elite te skep wat die land se geld gestroop het om hulself te verryk.

Die ANC praat van hervormings wat nodig is om beleggings in Suid-Afrika aan te moedig. Die enigste hervorming wat nodig is om Suid-Afrika te red, is om die ANC op 8 Mei in die algemene verkiesing te vervang. Die ANC is nie ʼn party wie se aandag gerig is op die toekoms nie, sy fokus is slegs op die verlede.

Die ANC sê hy is trots oor die groei van toekennings aan munisipaliteite oor die volgende vyf jaar. Dit is egter allermins iets om op trots te wees. Dit beteken bloot die kultuur van nie-betaling neem toe en mense raak toenemend afhanklik van gratis dienste wat groot druk op die fiskus plaas. Weens die ANC se beleidsrigting en swak bestuur, vind ekonomiese groei nie plaas nie. Daarom neem werkloosheid toe en bly munisipaliteite afhanklik van die nasionale regering weens nie-betalende inwoners. Dit is sleg vir Suid-Afrika, nie goed nie.

Die ANC wys deur sy verwaarlosing van plaaslike regerings dat hy nie werklik omgee vir arm mense nie. Altesame 220 munisipaliteite het nie hul volle kapitale begroting bestee in die laaste boekjaar nie.

Die toedeling van finansies spreek hoegenaamd nie munisipaliteite se buitensporige uitstaande skuld aan Eskom aan nie. Dit hou katastrofiese gevolge vir Suid-Afrika in die afsienbare toekoms in.

Sonder verantwoordbare bestuur word toekennings aan nasionale departemente, provinsies en munisipaliteite bloot gesteel of gaan dit deur wanbestuur verlore. R220 miljoen wat vir droogtehulp in KwaZulu-Natal goedgekeur is, het byvoorbeeld verlore geraak sonder dat enigiets daaraan gedoen is.

Die DA moet daarvan kennis neem dat die ANC nie verantwoordelik is vir die probleme in Suid-Afrika nie. Dit is eerder die beleid van die ANC, en die DA se beleid beweeg al hoe nader aan dié van die ANC.

Op 8 Mei kan die kiesers van Suid-Afrika werklik ʼn party kies wat oplossings bied en kan hulle terugslaan teen beleid wat vir die land se probleme verantwoordelik is. Suid-Afrika kan net gered word deur nuwe beleid en ʼn nuwe denkrigting en dit is wat die VF Plus aan kiesers bied.


Kontaknommers: 082 674 6670 / 065 801 7216


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!