Toesmeerdery bedreig pasiënte se gesondheid

2019-10-28
Dévar Smit

Swak waterdruk in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein is ‘n sluimerende bedreiging vir pasiënte. Die VF Plus het verneem dat daar met tye op sommige vloere in dié hospitaal geen water beskikbaar is nie.

Tydens ‘n portefeuljekomiteevergadering van die Vrystaatse wetgewer is komiteelede deur die LUR vir gesondheid in die Vrystaat, me. Montsheng Tsiu, en die departementshoof van gesondheid, dr. David Motau, verseker dat die waterprobleem in die hospitaal opgelos is.

Die VF Plus het egter oor die naweek verskeie klagte van pasiënte ontvang en het die hospitaal self besoek. Daar is steeds nie lopende water in dele van die hospitaal beskikbaar nie. Die oorsaak van die swak watertoevoer is tans onbekend.

Dit dui daarop dat die wetgewer mislei word deur die departement en dat sy oorsigrol nie gerespekteer word nie.

Die VF Plus veroordeel die optrede van die departement en dring daarop aan dat die watertoevoer aan die hospitaal sonder meer herstel word. Water is krities vir 'n hospitaal en moet te alle tye beskikbaar wees om die gesondheid van pasiënte te verseker.

Die party veroordeel die swak gehalte van gesondheidsorg aan pasiënte wat nie private gesondheidsorg kan bekostig nie. Dit is onaanvaarbaar dat pasiënte se gesondheid as gevolg van politieke toesmeerdery, swak infrastruktuur en ontoereikende bestuur bedreig word.

Die VF Plus sal die aangeleentheid onverpoos volg en sal verdere ondersoek instel sodat die betrokke amptenare tot verantwoording geroep word. Die oorsaak vir die swak watertoevoer moet dringend aandag geniet.


Kontak: 084 206 3375

GesondheidDevarSmitPelonomi

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!