Toenemende boeliegedrag in skole: Dalk ‘n onvoorsiene gevolg van die sogenaamde menseregtekultuur?

2021-05-27
Dr. Wynand Boshoff

(Debat in parlement oor boeliegedrag in skole)

Boeliegedrag het weer op die voorgrond getree nadat 'n 15-jarige leerder haar eie lewe na aanleiding daarvan geneem het. 'n Video waarin sy onder aanmoediging van omstanders aangerand word, het soos 'n veldbrand op sosiale media versprei, wat vir haar die laaste strooi was. Vir die VF Plus dui dit op 'n mislukking van die sogenaamde menseregtekultuur.

Boeliegedrag is 'n spesifieke sosiale verskynsel. Kompetisie is eie aan die sosiale kringe waarbinne die mens funksioneer. Die sosialisering van jongmense is spesifiek 'n omgewing waarbinne differensiëring op verskillende terreine plaasvind. Nie elkeen wat in so 'n kompetisie bo uitkom is 'n boelie nie, en nie elkeen wat agterbly 'n slagoffer nie.

Wat boeliegedrag kenmerk, is 'n aggressor wat iets weerloos in 'n potensiële slagoffer raaksien en dit uitbuit. Dit gaan egter nie oor die uitsonderlikheid van die slagoffer nie, maar oor die aggressor wat self onvoldoende voel.

Die wanopvatting is dat dit op een of ander manier beter sal word deur iemand swakker af te knou. Boeliery kan ook net plaasvind indien die slagoffer self weerloos voel en glo dat daar niemand is wat werklik kan help nie.

Fisieke boeliery is skouspelagtig en as dit op video vasgelê word, kan die skuldiges vasgetrek word. Soms word iemand egter geboelie, of afgeknou, deur verneder te word, sonder liggaamlike pyntoediening. In die finale instansie is die skade van boeliegedrag die emosionele impak.

Dit behoort 'n mens te verras dat boeliegedrag tans toeneem. Vir meer as drie dekades word menseverhoudings in Suid-Afrika volgens die menseregte-paradigma benader.

Die Handves van Menseregte is in die Suid-Afrikaanse Grondwet opgeneem. Alle nuwe wetgewing word gemeet aan die maatstaf van menseregte en ou wetgewing is na aanleiding daarvan afgeskaf of gewysig. Op plakkate en in handboeke word skoolkinders kort-kort herinner dat hulle regte het en ook ander se regte behoort te respekteer.

Tradisioneel ontwikkel kulture meganismes om boeliery teen te werk. Sekere volwassenes of selfs meer senior onvolwassenes word aangewys om die sosiale interaksie tussen kinders te bestuur. Strafmaatreëls vir die oorskryding van een mens se regte ten opsigte van 'n ander geld.

In die naam van menseregte is hierdie gesag egter verdun. 'n Gesagsvakuum, net soos enige vakuum, neig om gevul te word. Diegene wat dit vul, is die wat deur die reëls van die menseregtekultuur ongestraf gelaat word. Eenvoudig gestel beteken dit dat onderwysers deur boelies vervang word as die gesagsfigure in die skool.

As die veelgeroemde menseregtekultuur daartoe lei dat boelies in ons skole die botoon voer, sal dit die toppunt van ironie wees.

 

DrWynandBoshoffSkoleBoeliegedrag

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!