Toename in sinkgate aan die Wes-Rand ‘n tragedie wat wag om te gebeur

2020-02-21
Me. Amanda de Lange

Die onrusbarende toename in sinkgate aan die Wes-Rand is die voorspel tot ʼn tragedie wat wag om te gebeur.

Gedurende ʼn onlangse oorsigbesoek van die Gautengse wetgewer se portefeuljekomitee vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) aan die Wes-Rand, is aangedui dat die situasie oor die afgelope weke ernstig versleg het. In Khutsong, buite Carletonville, is daar vyf sinkgate gevaarlik na aan twee skole en woonhuise.

Die portefeuljekomitee, tesame met provinsiale rampbestuur, is aanspreeklik vir die implimentering van 'n geïntegreerde en omvattende rampbestuursplan wat behels dat gemeenskappe wat geraak word, van alternatiewe blyplek en skole voorsien word.

Verskeie inwoners wat op die rand van een van die grootste sinkgate woon, het te kenne gegee dat hulle nie hul groot huise vir ‘n kleiner, goedkoper huis wil verruil nie.

Munisipaliteite aan die Wes-Rand beskik nie oor die nodige fondse om die sinkgate te rehabiliteer nie en maak staat op die finansiële bydraes van die Gauteng-provinsie en nasionale tesourie.

Die VF Plus het tydens die oorsigbesoeke gevra of enige impakstudies in die betrokke gebied gedoen is om vas te stel of dit geskik is vir hoëdigtheidsbehuising en of enige van die eienaars bouplanne vir hul huise ingedien het. Die is die plig van plaaslike regerings om die nodige impakstudies te doen om moontlike rampe te voorkom.

Jare se swak en onvoldoende ondergrondse infrastruktuuronderhoud is 'n groot bydraende faktor tot die huidige krisis.

Die Mogale City-plaaslike munisipaliteit (Krugersdorp) is ook skuldig aan die verontagsaming van munisipale regulasies met die bou van 'n nedersetting op dolomietgrond. Die nedersetting word tans op 'n ou uitgewerkte steengroef gebou nog voordat enige grootmaatdienste en netwerke in plek is. Die huise is skaars twee meter uitmekaar gebou wat verdere druk op die onstabiele grondformasie plaas en 'n toekomstige ramp onafwendbaar maak. Hewige en aanhoudende reën kan die situasie vererger.

Die VF Plus hou die ANC-regering verantwoordelik vir enige lewensverlies in die najaag van kiesersstemme, veral kort voor ‘n verkiesing.

Die party het aanbeveel dat die miljoene rand wat bestee sal moet word om sinkgate te rehabiliteer, eerder aangewend word om geskikte gebiede te identifiseer waar behoorlike en volhoubare behuising opgerig kan word.

 

Kontaknommer: 071 604 9498

AmandaDeLangeMogaleCitySinkgateWesRand

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!