Tesourie moet aanhou om luukshede uit begroting te sny

2020-07-30
Dévar Smit

(Begrotingsdebat in Vrystaat-wetgewer)

Die Vrystaat het homself voor die koms van die Covid-19-pandemie reeds in ‘n benarde ekonomiese krisis bevind. Hierdie pandemie, die inperking, ander beperkings en die irrasionele regulasies van die regering het die bestaande krisis net vererger.

Die landbousektor het die grootste verlies aan werksgeleenthede in die eerste kwartaal van 2020 aangeteken. Werkloosheid in die Vrystaat het reeds voor die grendeltydperk met 3,4% toegeneem en na verwagting sal die provinsiale ekonomie in die volgende vyf jaar met -0,9% inkrimp.

Die Vrystaatse LUR vir tesourie, Gadija Brown, erken self dat geld aan verkeerde prioriteite bestee word nadat sy 67% van nie-noodsaaklike items kon reprioritiseer om die impak van die pandemie te versag. Dit sluit onder meer in vermaak, spyseniering, vervoer en die huur van lokale en geriewe.

Die VF Plus daag die LUR uit om hierdie items ook die komende jare te besnoei en die krane vir luukshede toe te draai wanneer die pandemie verby is.

Die ekonomie sal nooit suksesvol groei indien mislukte ideologieë en beleid voorrang geniet nie. Dit sal nie groei terwyl die staatskas deur korrupsie en onnodige luukshede geplunder en uitgebuit word nie.

Vrystaters verdien ‘n regering wat die probleme van die provinsie oplos en nie in posisies bly vir selfdienende neigings nie.

Enige poging om die huidige finansiële krisis te verlig, is nutteloos indien daar geen politieke wil van die regerende party is om die krisis aan te spreek en om te keer nie.


Navrae: 084 206 3375

VrystaatDevarSmitTesourie#Covid19SouthAfricaLuukshede

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!