Te min inspekteurs vir Suid-Afrika se hospitale en klinieke

2019-10-11
Philip van Staden

Die kantoor vir die nakoming van gesondheidstandaarde erken dat hy te min inspekteurs het om Suid-Afrika se sowat 4 184 hospitale en klinieke te inspekteer weens ‘n gebrek aan geld en ander hulpbronne.

Die VF Plus het met skok kennis geneem van die kantoor se bekendmaking dat hy slegs 44 inspekteurs het wat oor die hele land moet werk.

Dit het tot gevolg dat baie hospitale en klinieke bloot nie geïnspekteer word om toe te sien dat hulle aan wetlike voorskrifte voldoen om veilige en kwaliteit gesondheidsorg aan Suid-Afrikaners te lewer nie. Hierdie instelling ressorteer onder die  Nasionale Gesondheidswetgewing (12 van 2013).

Dit verklaar waarom hospitale se infrastruktuur verswak en toerusting nie werk of nagesien word nie. Daar is nie geld om vakante poste te vul nie.

Alhoewel die kantoor wel sy bes doen om by die meeste hospitale en klinieke uit te kom, is dit duidelik ʼn onbegonne taak. In die 2018/19-boekjaar is net tagtig instellings geïnspekteer.

Die VF Plus gaan die minister van gesondheid versoek om dringend aandag aan hierdie probleem te skenk en om te sorg dat elke provinsie ‘n aantal inspekteurs kry met voldoende hulpbronne om hul belangrike werk te doen.

Hierdie probleem verklaar die haglike toestand van baie hospitale waar min of feitlik geen dienslewering plaasvind nie.

Navrae: 060 556 4347  (012) 772 4410  (021) 403 3036

PhilipVanStadenGesondheid

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!