Suid-Afrikaanse energiemengsel: Langtermyngevolge moet bepaal hoe beskikbare hulpbronne teen mekaar opgeweeg word

2021-11-18
Dr. Wynand Boshoff

Die VF Plus het die COP26 klimaatsberaad in Glasgow, Skotland met belangstelling dopgehou. Van spesifieke belang is die uiteenlopende reaksie vanuit regeringskringe oor die aanbod van welvarende lande om sowat R106 miljard vir 'n "regverdige oorgang" na 'n koolstofneutrale energiebedeling in Suid-Afrika te bemiddel.

Die minister van minerale hulpbronne en energie, mnr. Gwede Mantashe, het op 8 November teen die skielike beëindiging van die gebruik van fossielbrandstowwe te velde getrek (asof enigiemand dit voorgestel het). Minister Barbara Creecy, minister van omgewingsake, het gister in 'n verklaring die wêreldwye verbintenis tot die teiken om klimaatsverandering te stuit, geloof.

Laastens het minister Pravin Gordhan gister in die parlement gesê die regering sal eers vasstel of die voorwaardes verbonde aan die R106 miljard-hulppakket vir Suid-Afrika aanvaarbaar is; en verder dat die geld nie gebruik sou word om Eskom te red nie.

Hierdie reaksies van ministers het teen die agtergrond van beurtkrag en toenemende kommer oor die volgehoue lewensvatbaarheid van die Suid-Afrikaanse kragopwekkingsvermoë plaasgevind.

Dit is lank reeds bekend dat steenkoolkragsentrales uit die vorige bedeling hul ontwerpleeftyd óf reeds oorskry, óf daardie datum vinnig nader. Ook dat die nuwes, Kusile en Medupi, nie presteer nie. Tot dusver was die Koeberg-kernkragsentrale by Kaapstad 'n stabiliserende faktor, maar ook daardie sprankie hoop is onlangs verduister.

In 'n ontleding van die nuusplatform Daily Maverick se spesialiseenheid Our burning planet word die hoof operasionele beampte van Eskom, mnr. Jan Oberholzer, aangehaal dat hy uiters bekommerd is oor die verlies aan ervare en kundige personeel by Koeberg. Verder sit die artikel uiteen hoe die Kernenergie Reguleerder onder begrotingstekorte ly en nie in staat is om veiligheid by Koeberg te monitor en af te dwing nie.

Dit bring ʼn mens by die sentrale probleem met kernkrag: Die gevolge as iets skeefloop, sowel as die tydraamwerk waarbinne iets wat skeefloop rampspoedig kan wees.

Selfs wanneer 'n kernkragsentrale gesluit word, is die afval daarvan nog vir eeue gevaarlik. Soos Suid-Afrika tans uitvind, is die verre toekoms wanneer noodsaaklike kennis en vaardighede om hierdie risiko's te beperk, nie so ver as wat mens altyd gehoop het nie.

Die gevolgtrekking: Steenkool is vir Suid-Afrika 'n gemengde seën, want die langtermynprys vir goedkoop energie is in die geval klimaatsverandering.

Kernkrag is belowend omdat die belangrikste bestanddeel meer kundigheid as fisieke hulpbronne is, maar die langtermynprobleem is dat daardie kundigheid van werk kan verwissel, aftree, of afsterf en nie maklik is om te vervang nie. Skaliegas in die Karoo is 'n keuse, maar die langtermyngevolge daarvan kan selfs meer rampspoedig wees as die ander twee opsies.

Die nadele van hernubare kragbronne is welbekend en steenkooldissipels laat nie 'n kans verbygaan om dit op te noem nie. Die belangrikste daarvan is wisselvalligheid, aangesien wind nie altyd waai nie en son nie altyd skyn nie.

Dit is waarom nóg 'n staatsdepartement, dié keer wetenskap en innovasie, sy hoop op groen waterstof stel. Waterstof is groen as die produksie van waterstofgas met hernubare krag aangedryf word. Hydrogen South Africa (HySA) is vir jare reeds besig om hierdie tegnologie te ontwikkel.

Intussen is verbruikers hande in die hare met beurtkrag en gee dalk nie te veel om waar die krag vandaan kom of wat die langtermyngevolge is nie.

Tog neem hulle toenemend die verantwoordelikheid op hul eie skouers deur sonaanlegte, soms met batteryberging gekombineer en soms nie, te installeer. Dit wissel van huishoudings tot groot fabrieke en myne, wat lank reeds besluit het dat daar nie op die staat om leiding gewag moet word nie.

Hoewel die onafhanklike benadering vir burgers bevrydend is, onthef dit die staat nie van die plig om langtermynplanne uit te werk en in werking te stel nie. Ook moet die staat die belange van gemeenskappe wat van die huidige bedeling van steenkoolmyne en -kragsentrales afhanklik is, in ag neem.

In die finale instansie is die staat se plig egter om die belange van volgende geslagte te beskerm - dit is iets wat ʼn mens verwag die staat beter as die private sektor sal doen.

Die VF Plus se gevolgtrekking is dat die staat geen ander keuse het as om alle hulp wat aangebied word om die "regverdige oorgang" te maak, te aanvaar nie.

Met die aanwending daarvan moet die klem wees op tegnologie wat die wisselvalligheid van hernubare krag in 'n betroubar basislading omskep. Daar is nie 'n keuse nie, al is steenkool nog volop.



DrWynandBoshoffElektrisiteitHernubareEnergieSteenkool

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!