Suid-Afrika wag op Mantashe se 100 MW-kennisgewing – dwarsboom hy die proses?

2021-08-10
Dr. Wynand Boshoff

Op 10 Junie 2021 het president Cyril Ramaphosa aangekondig dat die opwekking van elektrisiteit sonder die moeisame proses van registrasie, van 10 MW na 100 MW opgeskuif sou word.

Die minister van minerale hulpbronne en energie, mnr. Gwede Mantashe, sou 'n kennisgewing met dié strekking binne 60 dae uitreik. Nou lyk dit of Mantashe probeer om die president se aankondiging deur administratiewe wanprestasie te dwarsboom.

Die 60 dae het gister verstryk as mens dit in kalenderdae tel. Indien die minister daarop aanspraak maak dat hy 60 werksdae het, is die tyd ook vinnig besig om uit te loop.

Hardnekkige gerugte hou vol dat Ramaphosa se aankondiging nie Mantashe se steun gehad het nie. Hy is klaarblyklik 'n voorstander van regeringsbeheer oor die voorsiening van elektrisiteit.

Mantashe se denke oor energievoorsiening is een van die opsigte waarin ANC-beleid vinnig deur tyd ingehaal word. As voorstanders van die sogenaamde ontwikkelingstaat, word by die model van grootskaalse, gesentraliseerde opwekking van elektrisiteit onder beheer van die staat vasgesteek.

Dit gee die staat die mag om ondernemings wat na sy pype dans, met betroubare en selfs gesubsidieerde elektrisiteit te beloon - op voorwaarde dat dit beskikbaar is!

Onbekwaamheid weens kaderontplooiing lei tot terugslae soos die ontploffing by die Medupi-kragsentrale vroeër vandeesweek. Terselfdertyd skep nuwe tegnologie die geleentheid vir kleiner, gedesentraliseerde opwekking om meer betroubaar en goedkoper te wees.

Dit is duidelik dat die ANC intern oor die hantering van nuwe verwikkelinge op die energietoneel verdeeld is. Aan die een kant is daar diegene wat, soos Ramaphosa se aankondiging toon, die nuwe neiging as 'n geleentheid tot verhoogde ekonomiese groei sien. Aan die ander kant is diegene wat 'n bedreiging vir die gesentraliseerde staat daarin sien en dit daarom deur regulering wil voorkom.

Volgens die VF Plus is die tweede groep reg dat die ontluikende energiebedeling die gesentraliseerde staat ondermyn, maar anders as Mantashe, verwelkom die party dit. Daarom dat die VF Plus hom jare lank reeds beywer vir 'n energiebedeling wat volgens markkragte werk.

Dit beteken dat voorsiening, maar ook tyd van verbruik, deur fisieke faktore, eerder as politieke dienstigheid, bepaal sal word.

Intussen moet gewone verbruikers nie hul mag om die voorsiening van energie te beïnvloed onderskat nie. Selfvoorsiening van elektrisiteit word 'n al hoe meer bekostigbare keuse. Belangriker nog is dat dit verbruikers bevry van die beperkings wat iemand soos Mantashe op hulle wil plaas.

Met energie, soos in talle ander opsigte, sal die ANC leer dat daar neigings is wat `n mens eenvoudig nie kan teenstaan nie. Die VF Plus hoop dat hulle dit vroeër, eerder as later, sal leer.

 

DrWynandBoshoff#GwedeMantashe#Energie#Medupi

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!