Suid-Afrika het die reg om te weet waarom Zondo sloer met finale verslag

2022-06-21
Dr Pieter Groenewald

Daar is talle vrae oor waarom die finale verslag van die Zondo-kommissie na staatskaping nie binne die spertyd aan pres. Cyril Ramaphosa oorhandig is vir bekendstelling nie.

Die enigste verskoning wat aangebied is, was dat sekere “omstandighede” die vertraging veroorsaak het.

Die mense van Suid-Afrika het die reg om te weet wat hierdie omstandighede is sodat hulle self kan oordeel of dit geregverdig is of nie.

Daar word ook berig dat ʼn vergadering plaasgevind het tussen die president en regter Raymond Zondo. Die publiek het die reg om te weet wat tydens hierdie vergadering bespreek is en waarom dit plaasgevind het. Dinge soos hierdie skep agterdog.

Daar moet onthou word dat meer as ʼn miljard rand van belastingbetalers se geld gebruik is vir die ondersoek na staatskaping en korrupsie.

Mense wil die sekerheid hê dat hul geld oordeelkundig aangewend is en dat korrupsie uitgeroei gaan word.

Indien ʼn situasie soos hierdie ontstaan, kan die publiek nie kwalik geneem word wanneer hulle hardop begin vra of geregtigheid eindelik gaan seëvier nie.

Die feit dat die verslag nou glo môre (Woensdag) beskikbaar gestel gaan word, is nie genoeg nie. Daar moet antwoorde gegee word oor waarom dit nie op die bepaalde spertyd gedoen is nie.



 

DrPieterGroenewald#CyrilRamaphosa#ZondoCommission

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!