Stygende misdaad: Plaasmoord en aanval op polisie wys plattelandse inwoners van Mpumalanga moet hulself beveilig

2020-06-24
Mnr. Werner Weber

Die VF Plus doen opnuut ‘n beroep op plattelandse inwoners van Mpumalanga om hul veiligheid op te skerp en aan te sluit by hul plaaslike buurt-, plaaswagte en gemeenskappolisiëringsforum na die jongste aanval en moord op mnr. Albert Küsel en ʼn aanval op ʼn polisiekantoor.

Mnr. Küsel is Dinsdagaand (23 Junie 2020) in sy huis op ‘n kleinhoewe in Sundra (naby Delmas) oorval, vasgebind en vermoor terwyl hy TV gekyk het.

Inwoners van Mpumalanga, veral dié wat woon op die platteland en in afgeleë gebiede, sal moet fokus op hul veiligheidsmaatreëls aangesien die polisie alleen nie in staat is om die inwoners se veiligheid te verseker nie.

Selfs polisielede en -kantore in Mpumalanga het ook nou die teiken van misdadigers geword. Op dieselfde dag wat mnr. Küsel vermoor is, het misdadigers vroegoggend op die Bosbokrand-polisiekantoor toegeslaan en polisiebeamptes van ses vuurwapens beroof.

Een van die polisiebeamptes is in die maag gewond en is in ‘n ernstige toestand in die hospitaal opgeneem.

Dié rooftog is ‘n aanduiding van die minagting wat misdadigers teenoor die polisie openbaar. Dit beïnvloed ook die veiligheid van Mpumalanga se inwoners aangesien die geroofde wapens waarskynlik gebruik gaan word vir misdaad.

Die vraag kan gevra word hoe veilig die publiek in hul huise kan voel wanneer opgeleide polisiebeamptes beroof word in die veiligheid van ‘n polisiekantoor.

Die VF Plus spreek sy innige meegevoel uit met die naasbestaandes van mnr. Küsel.

 

Navrae: 084 652 9164 / 076 687 2830

 

MisdaadWernerWeberPlaasmoordMpumulanga

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!