Straffeloosheid is die rede waarom weermaggrond soos elders onwettig beset word (Debat in parlement: Die behoefte aan hersiene regulering om militêre gebied teen betreding te beskerm)

2022-09-22
Dr Pieter Groenewald

Soos in die private samelewing is straffeloosheid die grootste enkele rede waarom basisse en grond van die weermag onwettig betree en beset word.

Die parlementsdebat oor dié aangeleentheid is daarom ʼn eggo van baie gemeenskappe en private grondeienaars in Suid-Afrika wat ook met die probleem van onwettige grondbesetting te kampe het.

Die besetting van weermaggrond skep ook nie net probleme vir die weermag nie, maar hou groot gevaar vir die betreders in.

Daar is uitgebreide terreine in Suid-Afrika waar die weermag met lewendige ammunisie oefen. Van hierdie ammunisie het nie ontsteek nie en lê steeds rond waar mense besig is om die grond te beset.

Die vraag is hoe om dit stop te sit, en hierdie vraag moet beantwoord word deur die weermag se opperbevelhebber wat ook die president van Suid-Afrika is, naamlik pres. Cyril Ramaphosa.

Die president het in Maart 2018 reeds hierdie vraag beantwoord toe hy besoek afgelê het by Olievenhoutbosch in Tshwane waar grondgrype plaasgevind het.

Luidens mediaberigte het die president toé gesê niemand het die reg om sonder meer grond in Suid-Afrika onwettig te betree en te beset nie aangesien dit ʼn oortreding van die wet is.

Hy het ʼn beroep op wetstoepassingsagentskappe gedoen om wet en orde in die gebied te herstel en het gesê oortreders sou met die “volle mag van die gereg” te doene kry.

Intussen gaan besettings regoor die land voort en die weermag en private eienaars se eiendom word toenemend bedreig.

Dit kan slegs opgelos word met die nodige politieke wil om op te tree, en hierdie wil is afwesig. Die skuld hiervoor moet vierkant op die president se skouers gelê word.

As opperbevelhebber én president laat hy toe dat die besetting van weermag- en private grond straffeloos voortgaan.

Die tyd het aangebreek om toe te sien dat onwettige besetters wel met die volle mag van die gereg te doen kry soos hy in 2018 onderneem het om te doen.

PieterGroenewald#weermaggrond

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!