Storm om nasionale polisiekommissaris sleg vir misdaadbestryding

2021-10-07
Dr Pieter Groenewald

Die nuus dat die nasionale kommissaris van polisie, genl. Khehla Sitole, redes aan president Cyril Ramaphosa moet verskaf oor waarom hy nie geskors moet word nie, is slegte nuus vir die polisie én vir die mense van Suid-Afrika wat misdaadbestryding aanbetref.

Dit wil voorkom asof hierdie verwikkeling die resultaat is van die botsing tussen minister Cele en genl. Sitole oor veral sleutel-aanstellings in die polisie.

Daar hang wel ’n wolk oor Sitole se kop aangaande ʼn hofuitspraak dat hy en ander senior offisiere die klassifikasie van dokumente as ‘rookskerm’ gebruik het om ongerymdhede rondom die aankoop van ’n selfoonsein-onderskepper toe te smeer.

Dit sou nogtans jammer wees om ’n kommissaris met polisie-ervaring te verloor aangesien stabiliteit en in die topbestuur van die polisie van die grootste belang is te midde van stygende misdaadvlakke in die die land.

Die proses rondom Sitole moet nou sy gang gaan hy moet sy redes om aan te bly as kommissaris, aan die president verskaf.

Sedert 2000 met die aanstelling van Jackie Selebi, is elke polisiekommissaris in omstredenheid gedompel. Een van die grootste bydraende faktore hiervoor was omdat dit politieke aanstellings was van persone sonder enige polisie-ervaring.

Selebi was ’n diplomaat, Cele ’n politikus en Riah Phiyega ’n maatskaplike werker. Nie een van hulle het enige ervaring gehad van die polisie nie. Dit het direk bygedra tot ’n verval in die polisie en ’n agteruitgang in misdaadbestryding.

Eers teen einde November 2017 is ’n ervare polisielid, genl. Sitole, as nasionale kommissaris aangestel. Hy het toe reeds sowat 35 jaar ervaring in die polisie gehad.

Dit sou jammer wees indien persoonlike botsings en meningsverskille tussen die minister en die kommissaris van polisie hierdie onenigheid veroorsaak het. Dit moet so gou as moontlik uitgeklaar word om weer stabiliteit in die polisie te bewerkstellig.

Dit sou ’n groot stap terug wees in die stryd teen misdaad indien daar op hierdie wyse van Sitole ontslae geraak word en hy vervang word met nog ’n politieke aanstelling sonder enige bewese kennis of ervaring van polisiewerk.

 

 

PolisieDrPieterGroenewald#BhekiCelePolisieKommissaris

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!