Stop die verval in Noord-Kaapse klinieke: Toekomstige VF Plus-raadslede sal daarvan werk maak

2021-09-30
Dr. Wynand Boshoff

Die VF Plus ontvang deurlopend klagtes oor die toestande in Noord-Kaapse klinieke.

Dit wissel van onvriendelike personeel, rassistiese optrede deur personeel, onvoldoende voorrade en toerusting wat nie werk nie, tot water, riolering en afvalverwydering wat verwaarloos word.

Hoewel klinieke 'n provinsiale bevoegdheid is, is dit van munisipale dienste afhanklik om te funksioneer. Verder is munisipale raadslede ook in 'n goeie posisie om oorsig by plaaslike dienspunte te doen.

'n Algemene probleem is dat pasiënte en selfs personeellede deur elemente in die personeel geïntimideer word. Baie klagtes word daarom aangemeld, met die versoek dat die klaer naamloos bly. Dit maak dit moeilik om die probleme doeltreffend te ondersoek.

Een só 'n klag is van 'n bejaarde pasiënt wat na 'n buurdorp se kliniek reis, omdat die plaaslike kliniek glo weier om wit pasiënte te behandel. Nog 'n geval is waar die hoof van ‘n kliniek fisiek gedwing word om medikasie aan skoonmakers te voorsien, hoewel daar nie vir hulle lêers is nie.

Een kliniek se beligting is na bewering só swak dat die dokter tydens ondersoeke sy selfoon se flits moet gebruik.

Verder lui berigte dat die X-straalmasjien stukkend is, wat beteken dat pasiënte teen groot koste na 'n groter sentrum vervoer moet word, terwyl die plaaslike radiografis niks het om te doen nie.

In nog 'n dorp is die kliniek vir die permanente inwoners ingerig, maar daar is na bewering soveel seisoenswerkers wat ook dienste benodig dat dit heeltemal onvoldoende is. Dit lei daartoe dat bejaarde en chronies siek pasiënte 'n volle dag in rye moet staan om hul medikasie te ontvang.

In nog 'n dorp waar wateronderbrekings dikwels voorkom, ly die kliniek volgens berigte nog meer. Water is blykbaar na die nuwe kliniekgebou aangelê, maar maande later eers gekoppel. Tenks is aangebring om noodwater te voorsien, maar die toevoerkrane is nie oopgedraai nie.

Verder het die tenks soms oorgeloop en soms heeltemal leeg gestaan.

Sakke met mediese afval is ook in die woonbuurt aangetref. Dit is deur inwoners opgetel en verbrand.

Doeltreffende primêre gesondheidsorg kan die staat op baie ander terreine geld bespaar en lewensgehalte in alle woonbuurte verbeter. Dit is 'n moeilike diens om te bestuur, aangesien daar soveel dienspunte oor duisende kilometer versprei is.

Daarom beskou die VF Plus dit as 'n noodsaaklike deel van sy raadslede se werk om besoeke aan klinieke te bring en bevindings na die provinsiale vlak op te wentel.

Wanneer die VF Plus se raadslede na die eerskomende plaaslike verkiesing hul plekke in nuwe rade inneem, sal dit tot voordeel van alle inwoners wees - nie slegs VF Plus-ondersteuners nie. Menseregte is nie 'n kwessie van mooi woorde nie, maar van goeie bestuur.



 

DrWynandBoshoffOpenbareGesondheidsorgKlinieke

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!