Standerton: Protesaksies sal nie die regerende party verander nie – om kiesers op te lei om korrek te stem, sal

2020-09-15
Mnr. Werner Weber

Die beste manier om die regerende party tot verantwoording te roep, is 'n realistiese moontlikheid om die ANC by die stembus te verslaan.

Protesaksies sal geen verskil maak aan die hopelose dienslewering van die afgelope jare deur die ANC nie.

Dit is jammer dat die kiesers dit nog nooit besef het nie, want op verkiesingsdag word daar weer vir dieselfde party gestem teen wie die betogende mense in opstand was.

Vir die inwoners van Standerton en die Lekwa-munisipaliteit (Morgenzon, Standerton), was 2020 die moeilikste jaar nog wat dienslewering aanbetref. Die Covid-19-pandemie het ondernemings tot stilstand geruk en baie mense werkloos gelaat. Die Standerton-ekonomie kan nie meer verdere protesaksies bekostig nie.

Dit is duidelik dat hierdie protesaksies se doel is om die aandag van die provinsiale ANC-regering af te trek, maar dit gaan tot niks lei nie, want dit is dieselfde regering wat hierdie onbevoegde plaaslike regering in plek hou deur doelbewus die forensiese ouditbevindinge van 2018 tot 2020 te weerhou.

Die implementering van die forensiese ouditbevindinge en aanbevelings kon reeds 'n groot impak in die verbetering van Standerton en die Lekwa-munisipaliteit se dienslewering gebring het, omdat amptenare van die Lekwa-munisipaliteit by die wanbestuur van die munisipaliteit betrek word.

Die VF Plus wag steeds op antwoorde oor hierdie aspek na vrae wat aan die provinsiale regering gestel is.

Die inwoners van die Lekwa-munisipaliteit het verandering nodig. Deur hul demokratiese reg te gebruik, kan inwoners sorg dat die regte party aan bewind kom sodat hul omstandighede en dienslewering kan verbeter.

Indien die meerderheid inwoners van die Lekwa-munisipaliteit verandering wil hê, moet hulle hul politieke affiliasie verander en in die munisipale verkiesing van 2021 vir die VF Plus stem.


Navrae: 084 652 9164 / 076 687 2830

 

DiensleweringWernerWeberProtesaksiesStandertonLekwaMunisipaliteit

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!