Staat betaal Kubaanse dokters direk, sê minister

2020-06-23
Dr Pieter Groenewald

Nieteenstaande mediagerugte tot die teendeel, blyk dit uit ʼn antwoord van die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, op ʼn parlementêre vraag van die VF Plus dat die Kubaanse dokters en veldwerkers in Suid-Afrika hul volle betaling direk van die Suid-Afrikaanse regering ontvang.

Hardnekkige gerugte sedert die Kubaanse mediese span se aankoms in Suid-Afrika, het daarop gedui dat die Kubaanse regering die grootste deel van die R239 miljoen sou ontvang.

Alhoewel die min. Mkhize sê die geld word direk in die spanlede se rekeninge betaal, is dit ʼn ope vraag wat die reëling is oor latere oorbetaling van die geld van die lede aan die Kubaanse regering.

In antwoord op hoe lank die mediese span in die land gaan wees, lui min. Mkhize se antwoord dat hulle in Suid-Afrika sal bly “so lank as wat hulle benodig word”. Die bestaande reëling is vir ʼn tydperk van twaalf maande wat elke kwartaal hersien sal word met die teikendatum vir terugkeer na Kuba in Mei 2021.

Wat die betaling van die R239 miljoen aanbetref, ongeag wie dit eindelik kry, is die VF Plus steeds van mening dat die bedrag buitensporig is gegewe die feit dat ʼn groot komponent van die mediese span gewone veldwerkers is.

Daar is genoeg kundigheid aan afgetrede en werklose mediese personeel en kundiges in Suid-Afrika om die werk te kan doen en dit is onaanvaarbaar dat hierdie mense nie eerder aangestel is nie. Volgens die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMV) was die meeste van sy 15 000 mediese dokters bereid om die werk te doen.

Luidens die minister se antwoord sal die reiskoste vir die span se terugkeer deur die “ontvanger-land” betaal word, in hierdie geval Kuba.


Navrae: 083 627 4397 / 065 801 7216

GesondheidDrPieterGroenewaldKubane#Covid19SouthAfrica#KubaanseDokters

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!