Soos met krieket wil die ANC-regering nou ook Suid-Afrika se skoonheidskoningin dwing om knie te buig voor rasse-politiek

2021-11-15
Dr Corné Mulder

Die VF Plus betreur die feit dat die ANC-regering op ongevoelige wyse die drome van Suid-Afrika se skoonheidskoningin, Lalela Mswane, wil verydel om aan die Mej. Heelal-kompetisie deel te neem net soos wat politieke inmenging onlangs onbehoorlike druk op die land se krieketspan geplaas het met die T20-Wêreldbekertoernooi.

Soos met krieket se Black Lives Matter-rasse-agenda maak die regering en organisasies soos die Palestynse politieke party Fatah ʼn rasse-aangeleentheid van die internasionale skoonheidskompetisie omdat dit in Israel aangebied word.

Suid-Afrika se ministerie van sport, kuns en kultuur het gister sy rug op Mswane gekeer en gesê dat die regering sy steun aan Suid-Afrika se deelname aan die Mej. Heelal-kompetisie onttrek weens die “gruweldade en rassisme” van Israel teen die Palestyne.

Dit is ironies dat Mswane self reeds aangedui het dat sy in haar jaar as Mej. Suid-Afrika wil fokus op een van die maatskaplike euwels wat die ANC-regering in haar eie land geskep het, naamlik werkloosheid met die armoede, desperaatheid en misdaad wat daarmee gepaard gaan.

Die ANC vergeet ook duidelik dat hy rassisme soos regstellende aksie (RA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) geïnstitusionaliseer het in Suid-Afrika en dat hy self verantwoordelik is vir gruwels teen sy eie land se mense weens omvangryke werkloosheid.

Altesame 13,8 miljoen mense of 25% van die land se bevolking (Statistieke Suid-Afrika) het nie geld om kos te koop nie. Misdaad en moordvlakke is van die hoogste in die wêreld.

Anders as met die skoonheids- en ander sportkompetisies kan die ANC-regering maklik die internasionale kroon dra vir die mees korrupte en onbevoegste regering in die wêreld.

Suid-Afrika se buitelandse beleid teenoor Israel is werklikheidsvreemd en argaïes. Die VF Plus doen ʼn beroep op die land se voorste maatskappye en die publiek om hulle agter Mswane te skaar en haar na die kompetisie te stuur om sodoende ʼn boodskap aan die ANC te stuur dat politieke inmenging in sport en kompetisies soos hierdie moet ophou.

Die ANC moet ook ligloop daarvoor dat ander lande nie ʼn streep begin trek oor die regering se inmenging en rasse-voorskrifte in sport wat die land se nasionale spanne sonder enige twyfel benadeel nie.

 

 

DrCornéMulderIsrael#LalelaMswaneMejHeelal

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!