Sol Plaatje-plaas: dienste belangriker as wit olifante

2019-11-11
Armand Cloete

Die VF Plus het in ‘n skriftelike parlementêre vraag aan die ministers van finansies, Tito Mboweni en bosbou, vissery en omgewingsake, Barabare Creecy, gevra of die regering gaan bydra tot die R14 miljoen wat die Lejweleputswa-distriksmunisipaliteit goedgekeur het om die geboorteplek van Sol Plaatje aan te koop en as erfenisgebied te verklaar.

‘n Plaas in die Boshoff-distrik was die geboorteplek van Plaatje, wat die eerste sekretaris-generaal van die ANC was.

Die hoof van die Lejweleputswa-ontwikkelingsagentskap, Bufanani Mnguni, het voor die Vrystaatse komitee vir openbare rekeninge en finansies beweer dié departemente sal die aankoop van die plaas befonds.

Die VF Plus wil weet of daar enigsins ‘n toerisme-impakstudie gedoen is en ‘n toerismeplan ontwikkel is voordat die grond as erfenisgebied en toerisme-aanloklikheid aangekoop en ontwikkel gaan word. Die VF Plus sal ook in die Lejweleputswa-raad vrae hieroor indien.

Die stuk grond was eers geoormerk om die Boshoff-natuurreservaat te hervestig, maar sal weens die hoeveelheid diere moontlik nie geskik wees nie. Die distriksmunisipaliteit probeer nou die plaas as erfenisgebied te verklaar.

Die ANC-regering se rekord met grond en die besit daarvan in die provinsie skets nie ‘n goeie prentjie nie. Die provinsie gaan geld bestee aan nog ‘n wit olifant soos die Winnie Mandela-museum in Brandfort, die Vrede-Suiwelprojek, die Ramkraal-projek in Heidedal en die N8-korridor in Mangaung.

Die Vrystaat het nou dienste nodig. Erfenisterreine waarvoor daar nie deeglik beplan is nie, sal soos alle ander ANC-projekte nie tot voordeel van die mense van die Vrystaat wees nie.


Navrae: 076 629 6219

 

ArmandCloeteVrystaatSolPlaatje

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!