Sol Plaatje: Kragonderbrekings en kabeldiefstal – vinkel en koljander

2022-10-07
Frans Reichert

Cassandra, ’n woonbuurt in Kimberley wat deel van Sol-Plaatje-plaaslike munisipaliteit vorm (Kimberley, Modderrivier en Ritchie), gaan maande reeds gebuk onder kragonderbrekings.

Beurtkrag is die direkte gevolg van hierdie woonbuurt se ergernis.

Tydens beurtkrag word kragkabels gesteel. Dit het nou al so erg geraak dat wanneer die nuwe kabel deur die dag vervang word, dit daardie selfde aand weer gesteel word.

Die inwoners van Cassandra het die VF Plus genader om ondersoek in te stel oor waarom die aangeleentheid ongehinderd voortduur.

Die VF Plus se raadslede het met die ondersoek by die munisipaliteit begin, maar hoe meer vrae hulle vra, hoe meer vrae duik op. Vrae soos:

Waar is die munisipaliteit se sekuriteitsafdeling wat veronderstel is om infrastruktuur te beskerm en waarom is daar nie aan voorstelle hieroor gehoor gegee nie?

Kabels hoef nie begrawe te word nie, maar kan oorhoofs herlei word, waar dit straks minder toeganklik vir diewe is.

Waar is die polisie en waarom word die gebied nie gepatrolleer nie?

Die VF Plus sal navraag doen om vas te stel of die diefstalle ooit by die polisie aangemeld word en of enigiemand al in verband daarmee in hegtenis geneem is. Indien dit wel aangemeld word, sal die polisie gevra word om te verduidelik waarom daar nie meer gedoen word om die infrastruktuur te beskerm nie.

Die oënskynlike traak-my-nieagtige houding veroorsaak straks dat die polisie onbewus is van die kabeldiefstal en daarom nie optree nie.

Die VF Plus het ’n skrywe aan die munisipale bestuurder, Bartholomew Matlala, oor die probleem gerig. Daar moet dringend antwoorde op dié vrae verskaf word.

Die koste om een so ’n kabel te herstel, beloop gemiddeld R50 000. Daardie onkoste word op die belastingbetaler se brood gesmeer.

Intussen doen die VF Plus ’n beroep op die gemeenskap om kabeldiefstal by die polisie aan te meld.

Die saaknommer kan direk aan die VF Plus-raadslede gestuur word om die sake op te volg.

Van die VF Plus-raadslede is ook by die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) betrokke.

Hulle sal seker maak dat meer patrollies na Cassandra ontplooi word.

SolPlaatjeKabeldiefstalFransReichert

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!