Skole en instansies wat nalaat om na veiligheid van skoolkinders om te sien, moet tot verantwoording geroep word

2020-01-28
Me. Amanda de Lange

Skole en instansies wat verantwoordelik is vir die veiligheid van skoolkinders en nalaat om hul verpligtinge na te kom, moet ondersoek en vervolg word.

Sedert die aanvang van 2020 skooljaar het verskeie leerlinge op ‘n onnatuurlike wyse gesterf.

In die jongste geval is Laticia Jansen (15), ‘n leerling aan die Graceland Education Centre in Elsburg Germiston, dood nadat sy na bewering aangeval en verkrag is. Haar liggaam is twee dae later in ‘n bos naby Elsburg gevind.

Die VF Plus is ook besorg oor bewerings van Laticia se ouma dat sy ʼn dag na haar kleindogter se verdwyning haar as vermis by die polisie aangemeld het. Die polisie het haar aangeraai om eers ʼn foto van Laticia te bring alvorens die ondersoek kon begin.

Laticia se dood kon waarskynlik vermy gewees het as die bus waarmee sy en ander leerlinge daagliks vanaf die skool na verskillende aflaaipunte vervoer word, nie voor die geskeduleerde tyd vertrek het nie.

Luidens mediaberigte gebeur dit gereeld dat busbestuurders vroegtydig vertrek en leerlinge kilometers na hul huise moet stap.

Ouers laat hul kinders in die sorg van skole en instansies waar hulle veilig behoort te wees. In dié geval was dit ‘n doodsvonnis. ‘n Jong meisie se lewe is wreed van haar weggeneem omdat iemand nie by die vasgestelde reëls gehou het nie. Dit kan nie geduld word nie. Mense moet verantwoordelik gehou word vir hul dade.

Die VF Plus doen ook ‘n beroep op die polisie om geen steen onaangeroer te laat in hul soektog na Laticia se moordenaar(s) nie.

Skole moet seker maak wanneer ‘n bus vroeër vertrek en leerlinge agterbly, leerlinge met vrymoedigheid die skool kan vra om ‘n alternatiewe reëling te tref. Geen kind mag sterf weens iemand se nalatigheid nie.


Kontaknommer: 071 604 9498

AmandaDeLangeBasieseOnderwysLaticiaJansen

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!