Dit is skokkend dat ʼn mosie van die VF Plus oor die moord op ʼn plaasboer, mnr. Schalk van der Merwe, vandag in die nasionale raad van provinsies verwerp is terwyl ander mosies wat moorde veroordeel, aanvaar is, ook deur die VF Plus.
Die VF Plus het in sy mosie gewys op die voorval waarin mnr. Van der Merwe op Sondag, 24 November 2019 naby Wolmaransstad in die Noordwes-provinsie aangeval en vermoor is. Sy vrou Lettie is ernstig beseer.
Die VF Plus het in sy mosie gevra dat die minister van polisie en die LUR’e vir openbare veiligheid van al die provinsies van die moord kennis neem en misdaadvoorkoming prioritiseer om die veiligheid van alle mense van Suid-Afrika te verseker.
Die ANC en die EFF het die mosie eenparig verwerp met tussenwerpsels soos: “We want the land.”
Die VF Plus het geantwoord deur te sê deur nie die mosie te aanvaar nie, stuur die lede van die nasionale raad van provinsies die boodskap aan die publiek uit dat moord en die hoë misdaadsyfer in die land aanvaarbaar is.
Dit is vir die VF Plus skokkend en onaanvaarbaar dat die moord op ʼn plaasboer geen simpatie by lede van die ANC en die EFF ontlok nie.
Duisende plaasboere is die afgelope 25 jaar onder ANC-heerskappy in Suid-Afrika vermoor. Die feit dat parlementslede die moord op ʼn boer nie afkeer nie, stuur ʼn onheilspellende boodskap uit en president Cyril Ramaphosa sal moet sê of hy hierdie houding kondoneer.
Kontaknommer: 079 885 1135