Skokkend dat dit ANC soveel jare neem om Gomba te ontslaan

2021-02-18
Theo Coetzee

Dit is skokkend dat dit soveel jare vir die ANC geneem het om die Oos-Kaap se LUR vir gesondheid, Sindiswa Gomba, uit haar amp te ontslaan. Die premier van dié provinsie, Oscar Mabuyane, het vanoggend op ‘n virtuele nuuskonferensie aangekondig dat sy ontslaan word.

Gomba is lank reeds omstrede en daar het ‘n wolk van ernstige aanklagte en bewerings oor haar kop gehang terwyl die provinsie se gesondheidsdienste hand oor hand versleg het.

Sy het verlede Vrydag saam met veertien mede-beskuldigdes in die landdroshof in Oos-Londen verskyn op aanklagte van bedrog en korrupsie wat verband hou met die gedenkdiens en begrafnis van oud-president Nelson Mandela.

Die VF Plus het verlede jaar reeds Gomba se kop geëis nadat dit tydens die druk op mediese dienste weens Covid-19 aan die lig gekom het dat verskeie provinsiale hospitale en klinieke in die Oos-Kaap nie in staat is om te voldoen aan behoorlike dienslewering nie.

Personeel het onder meer geweier om te werk weens agterstallige oortydvergoeding en ‘n tekort aan beskermende klere.

Verskeie eenhede van die Livingstone-hospitaal in Port-Elizabeth het nie gefunksioneer nie, gevaarlike afvalmateriaal het opgehoop in die hospitaal se gange en linne is nie gewas nie.

Belangrike klinieke soos Motherwell Community Health Centre moes hul deure sluit weens die tekort aan persoonlike beskermende toerusting en die swak toestand van die hospitale. Ernstige siek pasiënte is weggewys.

Gomba was ook verantwoordelik vir die aankoop van ‘n honderd motorfietse wat glo as “ambulanse” gebruik sou word en wat ‘n groot vermorsing van geld was.

Onder Gomba het die provinsie se gesondheidstelsel feitlik in duie gestort terwyl daar groot vrae van korrupsie en bedrog oor haar kop gehang het. Tog het die ANC vir jare met haar volhard. Intussen moet die inwoners van die provinsie die prys vir die hoeveelste voorbeeld van ANC-kaderbeskerming betaal.

Xolile Nqatha, LUR vir samewerkende regering, sal waarneem as LUR vir gesondheid en die VF Plus sal dophou of die gesondheidstelsel in die provinsie verbeter.


Navrae: 082 822 3414

GesondheidOos-KaapTheoCoetzee#SindiswaGomba

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!