Skande dat R1 miljard van Gauteng se onderwysdepartement nie bestee is nie

2019-09-26
Adv Anton Alberts

Daar was die afgelope boekjaar vir die soveelste keer ʼn groot onderbesteding van die begroting van Gauteng se onderwysdepartement onder sy LUR Panyaza Lesufi terwyl daar groot infrastruktuur-agterstande in die provinsie is omdat bykomende skole nie gebou word nie.

Lesufi se onvermoë om sy begroting doeltreffend aan te wend, probeer hy dan beredder deur op arrogante wyse Afrikaanse skole te teiken en te verengels deur nie-Afrikaanssprekende leerlinge op die skole af te dwing.

Die LUR doen dit deurlopend, selfs al weet hy dit is onwettig, soos gebeur het by die Overvaal Hoërskool waar sy eie departement se amptenare twee ander skole se hoofde onder eed laat verklaar het dat hul skole vol is terwyl dit nie die geval was nie.

Dit is ʼn voorbeeld hoe ʼn skool gedwing word om leerlinge van ander tale in ʼn Afrikaanse skool op te neem terwyl Lesufi se departement ʼn miljard rand nie gebruik om bykomende infrastruktuur te skep nie. In vorige jare het dieselfde scenario hom afgespeel toe groot begrotings nie gebruik is nie, maar druk op Afrikaanse skole geplaas is onder die voorwendsel dat daar nie genoeg skole is nie.

Dit is ʼn skande dat ʼn persoon wat voorgee om om te gee vir die leerlinge van Gauteng, na die hoeveelste bewys van sy onbevoegdheid steeds aanbly as onderwys-LUR vir die provinsie. Die VF Plus eis dat hy onmiddellik afgedank word en die party sal alles in sy vermoë doen om toe te sien dat hy nie aanbly in die pos nie.

Die VF Plus is besig met ondersoeke teen Lesufi en sal binnekort by verskeie instansies klagte indien teen hom om toe te sien dat die departement ʼn nuwe leier kry wat bevoeg is en omgee vir die leerders van Gauteng.

Die nuwe LUR moet iemand wees wat moedertaalonderrig inderdaad beskerm en wat nie ʼn probleem sal hê met Afrikaanse en Afrikaanse skole nie.


Kontaknommer: 082 391 3117


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!