Sinlose klipdood van Kaapse onderwyseres skok

2019-11-28
Dr Corné Mulder

Die VF Plus het met afgryse verneem van die sinlose dood van ʼn onderwyseres in die Paarl, mev. Michele Pietersen (58) wat vanoggend dood is toe ʼn persoon langs die pad ʼn klip deur die ruit van die motor gegooi het waarin sy en haar man, mnr. Anton Pietersen, gery het.

Luidens ʼn mediaberig was mev. Pietersen ʼn “gewilde en geliefde” wetenskaponderwyseres by die Sekondêre Skool New Orleans in die Paarl. Die egpaar was vroegoggend van Kaapstad onderweg na die Paarl toe die voorval naby die wynplaas Simonsvlei op die N1 gebeur het.

Suid-Afrika se buitensporige hoë moordsyfer is bekend. En elke sinlose moord, hetsy dit ʼn plaasaanval, bendemoord, rooftog of motorkaping is, is ʼn skokkende getuigskrif van ʼn land waar menselewens goedkoop geraak het en waar gewetenlose misdadigheid ʼn alledaagse geword het.

Vir die VF Plus grens ʼn voorval soos hierdie nie net aan misdadigheid nie, maar aan boosheid. Die persoon wat die klip gegooi het, het in die donker nie geweet wie in die motor is nie. Daar kon kinders in die voertuig gewees het, selfs een van sy eie familielede.

Dit het nie saak gemaak nie en die persoon het nogtans die klip gegooi, ongeag. Moontlik is hy nie bewus daarvan dat hy sonder enige gevoel ʼn steunpilaar sonder enige rede hoegenaamd uit die samelewing weggeruk het nie.

Die skool beskryf dit goed deur ʼn sosiale media-plasing wat lui dit is 'n baie hartseer dag vir “almal van ons”, en dat ʼn vriendin, kollega en geliefde onderwyseres dood is in ʼn “tragiese, onnodige en gewelddadige daad”.

Die VF Plus wil sy opregte meegevoel met die gesin, familie en die hele gemeenskap betuig en wil in hierdie geval, soos met elke misdaad wat iemand onnodig van sy naasbestaandes ontneem, sê dit kan nie so voortgaan nie. Genoeg is genoeg.


Kontaknommers: 083 626 1497 / 065 801 7216

DrCornéMulderKaapstad

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!