Sindikate verkoop na bewering elektrisiteit wat deur onwettige koppelings verkry word aan Rustenburg-inwoners

2020-01-13
Abrie Rootman

ʼn Ondersoek van die VF Plus in Rustenburg het aan die lig gebring dat sindikate moontlik op groot skaal elektrisiteit, wat deur onwettige koppelings verkry word, aan plaaslike inwoners verkoop.

Die ondersoek het wydlopende ongerymdhede rondom onwettige kragkoppelings in dié gebied blootgelê. Een voorbeeld is waar inwoners van informele nedersettings langs die R24 buite Rustenburg hul krag grootliks op hierdie wyse verkry.

In sommige gevalle word krag na bewering ook van naburige plase herlei en aan inwoners verkoop.

In die proses word transformators en kraglyne beskadig wat tot gereelde kragonderbrekings in die gebied lei. Besighede in die toerisme- en gasvryheidsbedryf asook boere, lei groot verliese as gevolg hiervan.

Die VF Plus op Rustenburg het vandag formeel versoek dat die burgemeester en munisipale bestuurder dringend teen die oortreders optree.

Die VF Plus het ook versoek dat optrede regoor die munisipale gebied moet plaasvind om te verhinder dat groot skade aan infrastruktuur aangerig word.


Kontaknommer: 076 819 0948

AbrieRootmanRustenburg

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!