Showmax (Multichoice) se besluit om Schuster-films te verban, skep gevaarlike presedent

2020-06-20
Adv Anton Alberts

Die VF Plus vind dit onrusbarend dat op dieselfde dag waarop Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, die skepping van ‘n rassisme-polisie om op onderwysers en leerlinge te spioeneer aangekondig het, dit bekend geword het dat Showmax stilweg besig is om Leon Schuster se films te sensor deur dit in die geheim van sy dienste te verwyder.

Dit is duidelik dat die denkpolisie in volle swang is in Suid-Afrika, beide in die openbare- en privaatsektore.

Showmax se besluit skep ‘n gevaarlike presedent met talle ondeurdagte gevolge vir die publiek, vir Afrikaanssprekendes en Multichoice-aandeelhouers. (Showmax, DStv en M-Net word deur Multichoice besit.)

In die eerste plek is Showmax en Multichoice se optrede waarskynlik ongrondwetlik aangesien regter Albie Sachs in 2005 in die Laugh it Off Promotions v SAB se grondwetlike hofsaak bevind het dat parodie in Suid-Afrika toelaatbaar is en deel vorm van die reg op die vryheid van uitdrukking.

Behalwe vir die komedie wat Schuster in sy films aanbied, is talle aspekte daarvan parodie wat as ‘n spieël dien vir die Suid-Afrikaanse samelewing waardeur rassisme in der waarheid op ‘n sublieme wyse ondermyn word. Daarom word Schuster se films waarskynlik deur die Grondwet beskerm.

Showmax, en by implikasie DStv en Multichoice, sal moet verduidelik hoe hulle rassisme definieer wat tot die besluit van sensorskap gelei het.

Daar kan sekerlik nie toegelaat word dat maatskappye, veral diegene wat op die effektebeurs gelys is en wat dus aan die breë publiek behoort en deur die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid (OKOSA) gelisensieer word, arbitrêr rondom grondwetlike voorskrifte ‘n fundamentele reg soos die van vryheid op uitdrukking vertrap nie.

Die tweede gevaarlike gevolg is dat die Afrikaanse film-erfenis van die 20ste eeu vernietig kan word. M-Net het jare gelede die meerderheid Afrikaanse films aangekoop en kan dus as alleen-eienaar besluit of die films uitgesaai of aan derde partye gelisensieer kan word.

Indien die belaglike rassisme-logika gevolg word en voortgebou word op die klugspel om Afrikaanse films weens gewaande rassisme nie uit te saai nie, sal dit veroorsaak dat baie min, indien enige, 20ste eeuse Afrikaanse films ooit weer uitgesaai sal word deur DStv of deur ander uitsaaier.

Die effek daarvan sal wees dat die Afrikaanse film-erfenis toegesluit sal word in ‘n korporatiewe tronk totdat kopiereg daarop uiteindelik verval. Weens die lang tydperk van kopiereg op films sal ‘n hele geslag kan verbygaan sonder om enige Afrikaanse films te sien, veral die films wat in die 20ste eeu vervaardig is.

Die laaste gevolg kan ‘n wesenlike effek hê op die finansies van DStv. DStv sal nou sy hele biblioteek van films en programme moet deurgaan om te kyk of ander produkte nie ook lei aan die sogenaamde rassisme-sindroom nie.

Daar sal waarskynlik, noodwendig vinnig bevind word dat die komedie van Trevor Noah, wat talle bevolkingsgroepe parodieer, ook verban moet word. Dieselfde geld internasionale produkte soos South Park en talle ander ‘sitcoms’ en komediante wat op Comedy Central verskyn.

Groot Hollywoodse lokettreffers sal ook getref word. Die gerekende akteur, Robert Downey Junior, speel byvoorbeeld ‘n swart karakter in die 2008 komiese film, Tropical Thunder, waarin hy deur die hele film homself ‘skuldig’ maak aan sogenaamde ‘blackface’.

Die gevolg sal wees dat alle films waarin dié akteur speel, van DStv en Showmax se speellys afgehaal sal moet word weens die ‘smet’ wat aan hom kleef. Dit sluit groot lokettreffers in soos die hele Avengers-reeks.

Indien enige duur gelisensieerde films nie meer uitgesaai mag word nie, sal die waarde daarvan – wat miljoene Amerikaanse dollars beloop – eenvoudig afgeskryf moet word.

DStv se aandeelhouers sal dan met reg kan vra of die direksie die maatskappy nie roekeloos bestuur nie met ernstige persoonlike gevolge vir die direkteure in terme van die Maatskappywet.

Korporatiewe sensorskap het geen plek in ‘n vrye demokrasie nie.

(Adv. Anton Alberts was voorheen hoof-regsadviseur van M-Net)


Navrae: 082 391 3117

AdvAntonAlberts#Showmax#Multichoice#LeonSchuster

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!