Seksvoorligting: Departement van basiese onderwys moet oop kaarte speel

2019-11-05
Dr. Wynand Boshoff

Die departement van basiese onderwys se jongste verklaring oor sy hersiene omvattende seksonderrig is 'n onsamehangende dokument en skep meer vrae as antwoorde.

Dit poog om weerstand teen dié projek as kwaadwillig en ongemotiveerd af te maak, maar verskaf nie helderheid nie. Die verklaring verdien eintlik 'n paragraaf-vir-paragraaf ontleding om aan te dui hoe misleidend dit is.

Sedert daar in Mei 2019 in die media oor voorgestelde wysigings aan seksonderrig berig is, het die departement onderneem dat enige veranderings deur konsultasie voorafgegaan sal word. Geen konsultasie het egter plaasgevind nie. Eers toe 'n parlementêre vraag in die verband gestel is, is die leermateriaal aan die portefeuljekomitee beskikbaar gestel.

Die verklaring ontken die insluiting van nuwe inhoud, hoewel dit in 'n ander paragraaf verklaar dat voorgeskrewe lesplanne, 'n aanlyn onderwysersopleidingskursus en handboeke wat aan die staat behoort, ontwikkel is. "Voortgesette Professionele Ontwikkelingskursusse vir Onderwysers" word ook oorweeg.

Die verklaring verwys na uitgedateerde lesplanne wat tydens die loodsfase gebruik is, sonder om verder daarna te verwys. In werklikheid is 'n volledige verslag deur internasionale akademici in vennootskap met die departement, in Februarie 2019 gepubliseer. Daarin word na "intervensie-" en "kontrole"-skole verwys, om die invloed van die betrokke lesplanne te evalueer.

Merkbare verskille word tussen die groepe skole geïdentifiseer, onder meer dat kinders in die "intervensieskole" groter belangstelling in die seksuele onderrig toon; dat ouers gemaklik is met die beginsel van seksonderrig maar nie weet wat die inhoud daarvan is nie; en dat onderwysers in die kontroleskole hul handleidings nuttig vind, maar onderwysers in die intervensieskole nié.

'n Vraag wat ouers en ander belanghebbendes hulleself kan afvra, is waarom soveel moeite met evaluering gedoen is as die hersiening geen nuwe inhoude bevat nie. Verder kan die departement almal tot ruste bring deur die beplande leermateriaal op die internet te publiseer, sodat ouers en onderwysers toegang kan kry en kommentaar kan lewer.

Intussen het die onderwysvakbond NAPTOSA in 'n verklaring gesê dat hy nie van die hersiene materiaal kennis dra nie en dat dit in geheimsinnigheid gehul is.

Om duidelikheid oor die saak te kry, het die VF Plus Dinsdag 'n skriftelike vraag aan die minister gerig waarin gevra word of daar met ouers en onderwysers oor hierdie hersiening gekonsulteer is, wat die tydraamwerk vir implementering is en of sy die versekering kan gee dat dit nie aan die begin van 2020 by skole geïmplementeer sal word nie. Die antwoorde word afgewag.

 

Kontaknommer: 074 166 5540

 

DrWynandBoshoffOnderwys

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!