Rowers vlug met R20 miljoen se goud terwyl polisie se lugvleuel gestrand is

2019-10-23
Kobus Hoffman

Die polisie in Gauteng kon vinniger opgetree het om vandeesweek ‘n georganiseerde bende vas te trek wat gedurende ‘n rooftog meer as R20 miljoen se goud by die Ergo-herwinningsgoudmyn in Brakpan geroof het.

Gedurende ‘n skietgeveg tussen die polisie en die bende is ‘n sekuriteitsbeampte noodlottig gewond.

Die VF Plus het aan die begin van die maand sy kommer uitgespreek omdat die enigste twee werkende helikopters wat aan die Johannesburgse polisie se lugvleuel behoort, weens wanbetaling gestrand is.

Die helikopters staan onderskeidelik reeds elf en drie maande by ‘n lugvaart-maatskappy in Midrand nadat hulle gediens is.

Dié afdeling speel ‘n onmisbare rol in veral die teenkamping van transito-rooftogte wat in Gauteng hoogty vier. Die wanbestuur van polisiehulpbronne en die ondermyning van die gemeenskap se reg tot veiligheid kom neer op verraad.

Die VF Plus is bekommerd daaroor dat die polisie in Gauteng kwistig is en nie sy verantwoordelikhede rondom die onderhoud van vliegtuie en helikopters nakom nie, maar eerder belastingbetalers se geld bestee om toerusting te vervang as om dit te onderhou.

Die VF Plus wil dit duidelik stel aan die Gautengse kommissaris van polisie, genl. Elias Mawela, dat die ongeorganiseerde wyse waarop die lugvleuel bestuur word, onaanvaarbaar is en mense se lewe in gevaar stel. Nog meer kan sterf omdat die eenheid onproduktief is.

Die roofbende kon waarskynlik gestuit gewees het en is moontlik besig om ʼn volgende rooftog te beplan. Intussen het ʼn groot mynmaatskappy aansienlike finansiële verliese gelei.


Kontaknommer: 071 640 7283

KobusHoffmanGautengPolisie

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!