Rooiwal-rioolaanleg in Pretoria se besoedeling moet dringend gestop word

2021-12-06
Kobus Hoffman

Die VF Plus het die burgemeester van die Tshwane-metroraad, Randall Williams, en die Gautengse LUR vir infrastruktuurontwikkeling, Tasneem Motara, versoek om dringend die herstel en opgradering van die Rooiwal-rioolsuiweringsaanleg noord van Pretoria te bespoedig om verdere besoedeling te voorkom.

Die VF Plus het met ʼn oorsigbesoek aan die aanleg die aangeleentheid ook bespreek met boere in die omgewing.

Volgens omliggende vee- en saaiboere was daar sedert die eerste fase van die aanleg se opgradering, geen wesenlike verbetering om rioolbesoedeling te bekamp nie.

Saaiboere kan weens die besoedeling van grond en ondergrondse water steeds nie gewasse aanplant op sekere dele van hul plase nie.

Boere in die omgewing het reeds in 2016 en 2019 hofsake teen die Tshwane-metro aanhanging gemaak waarin gevra word dat die metro dringend aandag moet skenk aan die onderhoud en herstel van die aanleg om die agteruitgang van die Vastfontein-gebied te stuit.

Die herstelproses het in Junie begin en sal na verwagting tot die derde kwartaal aanstaande jaar duur. Die koste daaraan verbonde sal ʼn geraamde R2,1 miljard beloop.

Intussen vloei onverwerkte riool en slik in plaasdamme, riviere en oor omliggende plaasgrond.

Boere is aangewese op onbesoedelde water en grond om hul ondernemings suksesvol te bedryf. Dit is die metro se verantwoordelikheid om toe te sien dat rioolaanlegte in stand gehou en betyds opgegradeer word om besoedeling van die omgewing te verhinder.

Die VF Plus sal die situasie by die Rooiwal-aanleg monitor en die metro verantwoordelik hou vir enige verliese wat boere mag ly weens die besoedeling.



 

KobusHoffmanTshwaneMetroraadRooiwalRioolaanleg

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!