Rooftog in middedorp van Kuruman wys op erns van misdaad

2020-10-13
Die Redaksie

Die roekelose wyse waarop ‘n 65-jarige boer van Daniëlskuil, mnr. Giep Niemann, Saterdag voor 'n bank in Kuruman beroof is, onderstreep die mate waartoe misdaad in dié dorp hoogty vier. 'n Video oor die voorval is wyd op sosiale media versprei.

Daar was selfs al voorvalle op die dorp waar mense ontvoer is om elders beroof te word.

Die VF Plus het verlede jaar reeds die voortou geneem met 'n noodberaad met die polisie, private veiligheidsmaatskappye, die plaaslike regering en georganiseerde landbou om misdaad te bestry. Die polisie het toe erken dat Kuruman die misdaadbrandpunt van die Noord-Kaap is.

Een van die probleme wat geïdentifiseer is, is die veiligheidskameras in die middedorp wat nie aan die polisie behoort nie en nie deur hulle gemonitor word nie.

Private veiligheidsmaatskappye doen wat hulle kan, maar word deur die omvang van misdaad oorweldig. Hulle het ook nie dieselfde wetstoepassingsmagte as die polisie nie. Hierdie maatskappye werk nou saam met die polisie en hul aksies lei dikwels tot inhegtenisnemings.

Die werklikheid is egter dat misdaad grootliks sonder vrees vir gevolge gepleeg word. Slagoffers doen in baie gevalle nie eens die moeite om misdaad te rapporteer nie.

Ouer en kwesbare mense van alle bevolkingsgroepe is die teiken van hierdie misdadigers. Mense sê gereeld aan die VF Plus hulle is bang om die dorp te besoek, maar het soms geen keuse nie.

Met die veiligheidsberaad het die polisie aangedui dat daar ล‰ toestroming na Kuruman is van omliggende gebiede soos Ga Segonyana en Joe Morolong. Dit skep 'n groot gedrang in die middedorp wat wetstoepassing bemoeilik.

Kuruman self is 'n dorp met sowat 14 000 inwoners. Dit is die enigste stedelike sentrum van die Ga Segonyana-munisipaliteit (Bankhara-Bodulong, Kuruman, Mothibistad) met byna 'n honderdduisend inwoners. Die Joe Morolong-munisipaliteit (Hotazel, Santoy, Van Zylsrus) is bykans dieselfde grootte.

'n Kombinasie tussen ekonomiese ontwikkeling in landelike gebiede en voldoende befondsing vir dienste wat die staat in Kuruman moet lewer (soos polisiëring) is noodsaaklik. Daarsonder kan verwag word dat misdaad net verder sal toeneem.

Navrae: 079 447 0426

MisdaadBillyMarkramKuruman

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!