Roete tussen Sishen en Port Elizabeth: VF Plus wys weer op dodelike gevolge van padvervoer van erts

2021-02-22
Dr. Wynand Boshoff

Die VF Plus het al herhaaldelik die aandag gevestig op die gevaarlike toestand van die roete tussen ertsmyne van Kathu en Postmasburg aan die een kant en Port Elizabeth aan die ander kant van 'n lang padvervoerroete.

Vandag het 'n jong vrou van Orania ternouernood aan die dood ontkom, toe 'n ertsvragmotor oor 'n vierrigtingstop gejaag en haar voertuig van die kant af getref het. Sy is met 'n gebreekte bekken in die hospitaal in Kimberley opgeneem.

Die ertsroete skep 'n verskeidenheid van probleme. Tientalle vragmotors ry daagliks tussen die myne en die verskepingsdepot by die hawe van Port Elizabeth. Hardnekkige gerugte lui dat vragmotors normaalweg oorlaai is, maar die afwesigheid van provinsiale weegbrûe op die roete maak dit moeilik om te bewys.

Die VF Plus het ook in die verlede gevra dat weegbrûe in die besit van boere en landboumaatskappye vir wetstoepassing geakkrediteer word. Aangesien hierdie brûe gebruik word om ondernemings se inkomste en uitgawes te bepaal, kan 'n mens daarop reken dat dit akkuraat is en goed onderhou word.

Nog 'n manier om die las wat vragmotors dra te bepaal, is om te vereis dat die laaisertifikate by myne en die hawe vir wetstoepassing beskikbaar gestel word. Op die oog af bestaan die wil om 'n oplossing te vind, nie in die regte kringe nie.

Terwyl die oorlading van vragmotors tans nie bewys kan word nie, is die beskadigde toestand van paaie daar vir almal om te sien. Die groot aantal slaggate het al tot talle ongelukke gelei.

Alle dorpe op die roete word deur die krisis van ertsvervoer geraak. Wat Orania uitsonder, is dat kameras by die vierrigtingstopstraat aangebring is, waar die roekelose gedrag van vragmotorbestuurders op rekord geplaas word. Verskeie afsprake met tersaaklike wetstoepassingsagentskappe is al op kort kennisgewing gekanselleer.

Gemeenskappe in die Noord- en Oos-Kaap is geregverdig om te vra of hul veiligheid vir owerhede opweeg teen die belange van padvervoer van erts - iets wat ideaal geskik is om per spoor vervoer te word.

Dit kan ook gevra word of hierdie risiko's vir gewone mense 'n naskrif onder die hoofstuk van staatskaping en wanbestuur by Transnet is.

 

DrWynandBoshoffKathuSishenYstererts

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!