Repliek op Gautengse provinsiale rede: Premier Makhura se vooruitsigte vir Gauteng oorskadu belastingbetalers se finansiële bydraes

2020-02-27
Me. Amanda de Lange

Die premier van Gauteng, David Makhura, se voorstel tydens sy provinsiale staatsrede vir ‘n oostelike deurgangsontwikkeling om die Vaaldriehoek en die Vrystaat te verbind, is ‘n vermorsing van belastingbetalersgeld aangesien nie die provinsie of die munisipaliteite eens oor die vermoë beskik om die huidige rioolkrisis in Emfuleni op te los nie.

Die verdere uitbreidings wat hy vir Johannesburg in die vooruitsig stel, is ook onrealisties vir ‘n gebied wat reeds oorbevolk en ‘n verkeersnagmerrie is.

Die premier se droom om ses nuwe hospitale te bou oor die volgende tien jaar, is nie finansieel haalbaar nie. Die provinsie kan tans nie eens bestaande provinsiale hospitale onderhou en behoorlik bestuur nie. Hospitale is reeds onderbeman en die VF Plus versoek die premier om nie weer groot groepe mediese personeel uit Kuba in te voer nie.

Die VF Plus het die premier daarop gewys dat alhoewel hy groot drome het vir nuwe hospitale, die uitbreiding van toerisme en sportstadions, hy ‘n groot aandeel gehad het in die afbreek van die eertydse Bob van Renen-sportstadion in Krugersdorp waar bekende atlete se rekords steeds staan.

Van dié statige stadion het net ‘n murasie oorgebly. Groot skole-atletiekbyeenkomste kan nie meer aan die Wes-Rand aangebied word nie en atlete moet nou ten duurste na Johannesburg en Pretoria vervoer word om stadions daar te gebruik.

Die VF Plus sal aanhou om premier Makhura daarop te wys dat belastingbetalers se geld nie net op nuwe ontwikkelings en drome bestee kan word nie. Bestaande geriewe moet ook behoorlik in stand gehou en bestuur word.


Kontaknommer: 071 604 9498

GautengAmandaDeLange#GPSOPA

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!