Regering se koppigheid met Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) gaan Suid-Afrika duur te staan kom

2019-08-08
Philip van Staden

Die regering se plan om die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) ten alle koste deur die parlement gedruk te kry en in die wetboeke as wetgewing ingeskryf te kry, gaan Suid-Afrika nog duur te staan kom.

Die VF Plus het reeds verlede maand in die parlement gewaarsku dat die NGV gaan veroorsaak dat ervare medici die land gaan uitstroom indien die NGV in wetgewing vervat en afgedwing gaan word.

Die minister van gesondheid, Dr. Zweli Mkhize, se hardkoppigheid met sy pogings om hierdie wet op die boeke te kry, kan nog nie duidelikheid verskaf oor hoe die NGV gefinansier gaan word of wat die rol van mediese fondse onder die NGV gaan wees nie.

Alle aanduidings is daar dat die regering met die NGV poog om van mediese fondse ontslae te raak en dit opsigself gaan veroorsaak dat Suid-Afrika se reeds sukkelende en wankelende ekonomie ‘n enorme verdere knou toegedien gaan word.

Suid-Afrika se belastingbetalers gaan nog verder deur die NGV versmoor word en sal dit nie kan bekostig om verpligte bydraes tot die NGV te lewer, mediesefonds-bydraes te betaal en om hoë belastings te betaal nie.

Die regering se plan om die NGV te gebruik om vervalle infrastrukture by staatshospitale op te knap, gaan ook nie slaag nie en die VF Plus is van mening dat die NGV net geskep gaan word om nog meer fondse van die belastingbetaler te verkry om sodoende nog meer korrupsie met hierdie fondse te pleeg.

Gebreke in die voorgestelde wetgewing laat die rooi ligte flikker aangesien die voorgestelde wet nie aandui watter dienste deur die NGV gedek gaan word nie.

Die feit dat pasiënte nie ‘n spesialis sal kan besoek nie aangesien die NGV nie daarvoor sal betaal alvorens pasiënte op ‘n NGV-geakkrediteerde primêre gesondheidsgerief geregistreer is en die gerief nie ‘n pasiënt na ‘n spesialis verwys nie, is ook ʼn groot probleem.

Die regering is tans nie eens in staat om pasiënte ordentlik by staats- en provinsiale hospitale te behandel nie, wat nog te sê onder die nuwe plan.

Geregistreerde immigrante uit ander lande sal toegang tot alle mediese dienste onder die NGV hê wat gefinansier gaan word deur Suid-Afrika se hardwerkende belastingbetalers. Die VF Plus kan nie insien hoe die NGV die land se gesondheidsdienste gaan red nie. Dit sal eerder veroorsaak dat Suid-Afrika se gesondheidsdienste heeltemal vernietig word.

Die VF Plus sal aanhou om teen die NGV te veg op alle vlakke van regering in die land. Die VF Plus sal die geveg voer in die parlement, in die nasionale raad van provinsies asook in die provinsiale wetgewers.


Kontaknommer: 060 556 4347

 

 

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!