Regering sal baie beter na die welstand van gesondheidswerkers moet begin omsien

2020-11-26
Philip van Staden

Die VF Plus maan die Suid-Afrikaanse regering om baie vinnig beter om te sien na die welstand van die land se gesondheidswerkers.

Dit is ‘n skreiende skande dat hierdie soldate in die geveg teen Covid-19 die voorste linies op die gevegsfront moet inneem, maar dit moet doen sonder voldoende beskermende toerusting, medisyne, beddens of ekstra hulp.

Die wyse hoe die regering gesondheidswerkers hanteer en skouers optrek wanneer daar probleme opduik en hulp benodig word, is totaal onaanvaarbaar.

Weens die regering se laksheid is gesondheidswerkers in hierdie stadium nie net oorwerk en gefrustreerd nie, maar sterf hulle ook in hierdie geveg. Hulle moet daagliks baie trotseer en daar moet besef word dat hulle ook mense met families is en nie masjiene wat net volstoom kan voortgaan nie.

Die VF Plus stel dit baie duidelik dat die regering se houding teenoor gesondheidswerkers drasties sal moet verander. Korrupsie en wanadministrasie moet gestaak word en gesondheidswerkers in hospitale en klinieke moet van voldoende hulpmiddels, medikasie en persoonlike beskermende toerusting voorsien word.

Indien die regering sou voortgaan met hierdie koue skouer-houding, loop Suid-Afrika die gevaar om talle gesondheidswerkers uit hierdie beroep te verloor en dit gaan niemand baat nie.



PhilipVanStadenGesondheid#Covid19SouthAfricaGesondheidswerkers

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!