Ramaphosa moet pa staan vir Julie-onrus

2021-08-24
Dr Pieter Groenewald

(Debat in parlement: Oorsigbesoek van polisie-komitee aan KwaZulu-Natal en Gauteng na onlangse onrus)

Suid-Afrikaners was vanaf 7 tot 16 Julie vanjaar die ooggetuie van grootskaalse opstande, plundering en die vernietiging nie net van winkelsentrums en sake-ondernemings nie, maar ook van die ekonomie van Suid-Afrika.

Die jongste berekeninge van die banksektor dui daarop dat sowat R112 miljoen in kontant van outomatiese bankpunte geplunder is. Dit was die werk van misdadigers wat die situasie uitgebuit het om te roof en nie dié van honger mense nie.

Uit alles wat gebeur het, is dit duidelik dat die intelligensiedienste die mense van Suid-Afrika in die steek gelaat het. Dit het boonop voor die oë van die wêreld gebeur wat die staat se onbeholpenheid gade geslaan het.

Tydens die parlementêre portefeuljekomitee se besoek aan KwaZulu-Natal ná die opstande, het die minister van polisie, Bheki Cele, ontken dat hy enige intelligensieverslag van die staatsveiligheidsagentskap ontvang het. Hy het ook ontken dat die polisiekommissaris, genl. Kehla Sitole, so ’n verslag ontvang het.

Op haar beurt het die toenmalige minister van staatsveiligheid, Ayanda Dlodlo, volgehou dat sy wel intelligensieverslae aan die polisie oorhandig het.

Of daar wel intelligensie in dié verband was of nie, is onseker. Wat wel van belang is, is dat inligting in hierdie verband, indien dit bestaan het, nie gebruik is nie. Die omvang van die skade wat aangerig is, dien as bewys daarvan.

Dit sluit al drie intelligensiedienste in – die van die polisie, die weermag en die staat se staatsveiligheidsagentskap (SVA).

Gister sou ’n soortgelyke veldtog van stapel gestuur word om die land te destabiliseer. Hierdie keer was die veiligheidsdienste egter gereed. Dit dien as bewys dat indien daar wel verlede maand inligting was en daarop gereageer is, die potensiële gevaar soos nou totaal ontlont sou kon word.

’n Verdere uitvloeisel uit die gebeure in Julie is dat die publiek hul vertroue in die polisie verloor wanneer hulle genoodsaak word om hulself te beskerm deur die reg in eie hande te neem.

Dit is daarom verkeerd om nou die gebeure in Phoenix, waar die gemeenskap geen polisiebeskerming gehad het nie, as rassisme af te maak. Dit is bewys in Pongola waar wit, swart, bruin en Indiërmense as gemeenskap saamgestaan het om almal se belange teen misdadigers te beskerm.

President Cyril Ramaphosa moet die volle verantwoordelikheid vir hierdie gebeure en die onbeholpenheid van die intelligensiedienste en die polisie op hom neem. Niemand anders kan die skuld daarvoor kry nie.



 

DrPieterGroenewald#CyrilRamaphosa#Unrest

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!