Ramaphosa moet ingryp in die gewelddadige onluste en vernietiging van eiendom en dit in die openbaar veroordeel

2021-07-10
Dr Pieter Groenewald

Die huidige situasie in die land van geweldpleging, protes en die vernietiging van eiendom, is totaal onaanvaarbaar en kan afstuur op totale anargie.

Ek doen as leier van die VF Plus ‘n dringende beroep op pres. Cyril Ramaphosa om hierdie optrede in die openbaar te veroordeel en op die veiligheidsmagte in Suid-Afrika om daadwerklik in te gryp om wet en orde te handhaaf en om alles moontlik doen om die onrussituasie te ontlont.

Veral in KwaZulu-Natal is die situasie buite beheer met paaie wat totaal ongaanbaar is. Op die N3-snelweg naby Mooirivier is 23 vragmotors, baie met hul vrag, teen vanoggend reeds aan die brand gesteek.

Die vernietiging wat met die opstande gepaard gaan, is vernietigend vir die land se reeds haglike ekonomiese situasie. Dit skaad die land se beeld in die buiteland en sal voornemende beleggers afskrik om hier te belê.

Daar is tans baie boodskappe wat op sosiale media die rondte doen wat geweld aanhits terwyl die vernietiging van eiendom, vragmotors wat aan die brand gesteek word en oproerige byeenkomste daagliks voorkom.

Ewe ontstellend is stemboodskappe wat in besonder lui dat witmense die teikengroep van die geweldpleging moet wees aangesien dit die sogenaamde wit monopoliekapitaal is wat president Cyril Ramaphosa beheer en hom gebruik.

Ongeag die oorsprong van die boodskappe moet dit baie ernstig opgeneem word aangesien dit grootskaalse rassegeweld aanhits en mense sonder twyfel daardeur beïnvloed kan word en dit kan gebruik as verkoning om geweld te pleeg.

Dit is onaanvaarbaar dat die interne gevegte van die ANC nou ontwikkel het in openbare onrus en geweld.

Onskuldige mense word geteiken en witmense word die sondebokke gemaak vir die land se probleme en die Zuma-aangeleentheid en daarom moet daadwerklik en ferm opgetree word teen die oortreders en diegene wat hulle aanhits.

 

GeweldDrPieterGroenewaldKwaZuluNatal#CyrilRamaphosa#JacobZuma

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!