Dit is onaanvaarbaar dat inwoners van informele nedersettings in die Nelson Mandelabaai-metro (NMBM), wat aandring op munisipale dienste, protesaksies as eerste uitweg gebruik.
Daar moet eerder in gesprek getree word met die metroraad om oplossings vir probleme en die mense se frustrasie te kry.
Die inwoners van die Bayland-nedersetting het onlangs groot ontwrigting veroorsaak toe die hoofpad tussen Port-Elizabeth (Gqeberha) en Uitenhage (Kariega) met brandende bande en ander voorwerpe afgesper is.
ʼn Vervoermaatskappy se trok is aan die brand gesteek en talle motorvoertuie is beskadig.
Die hoofpad was vir etlike ure gesluit en motoriste moes omdraai en 'n ander plan maak om by die werk te kom.
Die Bayland-nedersetting is ʼn informele nedersetting aan die buitewyke van Port-Elizabeth (Gqeberha).
Die nedersetting het ontstaan toe ʼn groep grondbesetters informele strukture daar opgerig en hul intrek geneem het.
Hierdie inwoners dring nou daarop aan dat hulle munisipale dienste, soos elektrisiteit, water en sanitasie, moet ontvang.
In ʼn poging om die situasie te ontlont, het lede van die burgermeesterskomitee die gebied besoek om met die plaaslike gemeenskapsleiers in gesprek getree.
Hierdie leiers is vir konstruktiewe gesprekvoering met die betrokke rolspelers van die metro uitgenooi sodat die koalisieregering van NMBM oplossings vir hul griewe kan vind.
Hierdie inisiatief is 'n poging om te voorkom dat daar verdere protesaksie volg wat ongerief, eiendoms- en ekonomiese skade veroorsaak.
As koalisievennoot in die NMBM is die VF Plus verbind tot behoorlike dienslewering. Die VF Plus is verbind tot die installering van nuwe infrastruktuur en dienste, asook die onderhoud van bestaande infrastruktuur.
Dit moet geskied sonder om dienslewering aan getroue belastingbetalers te ontwrig en slegs wanneer inwoners van informele nedersettings bereid is om vir die dienste te betaal.
Die VF Plus versoek inwoners om enige geskille direk met die munisipaliteit op te neem, eerder as om radikale protesaksies te loods.