Projekte van die departement van landbou lyk goed op papier maar tragies op die grond

2019-11-22
Tammy Breedt

Op papier word ‘n prentjie van sukses en vordering voorgehou oor projekte van die departement van landbou en grondhervorming. Op grondvlak is die situasie egter ingrypend anders en in een geval voorsien die staat koolboere selfs met implemente om aartappels mee te verbou.

Die realiteit is dat die meeste landbouprojekte misluk nieteenstaande gloeiende vorderingsverslae van projekbestuurders aan parlementslede. Die vraag moet gevra word of sommige amptenare wat hulself straks uit die projekte verryk, moontlik meehelp om ʼn vals beeld oor die projekte aan die parlement voor te hou.

Ter plaatse besoeke as deel van parlementêre oorsig is daarom van die grootste belang om te sien wat werklik gebeur met die miljoene rande van belastinggeld wat aan die projekte bestee word. Dit bring ʼn ander realiteit as die haas eindelose voorleggings in komiteekamers.

Die Ndumo Landbou Produksie Ondersteuningseenheid is 'n sprekende voorbeeld van die wanvoorstellings wat die oorsigkomitee op sy onlangse besoek aan KwaZulu-Natal gesien het. Op papier is dit 'n goeie projek. Selfs foto’s het gespreek van sukses.

By nadere ondersoek was dit egter duidelik dat ʼn vals beeld voorgehou is. Die boere verbou kool, maar hulle het werktuie ontvang om aartappels te plant, te oes, skoon te maak en te verpak. Die toegang tot markte, wat aan hulle belowe is, het ook nie gerealiseer nie.

Dit is slegs een van die honderde projekte wat tans deur die departement gedryf en gefinansier word en dien as bewys dat die sektorale toesigmodel van die parlement misluk, omdat daar nie besoeke op grondvlak is nie. Verslae oor prestasie-inligting is nie voldoende toesig nie. Papierteikens sonder gehalte-vereistes sal die situasie nie verbeter nie.

ʼn Besoek aan grensmunisipaliteite het ook aan die lig gebring dat sogenaamde ‘rooilynheinings’ in ʼn slegte toestand is nieteenstaande die pogings van die departement om ook hier ʼn prentjie voor te hou van voldoende heinings wat goed in stand gehou word.

Die situasie laat die vraag ontstaan of KwaZulu-Natal se voorland iets soortgelyk is aan die bek-en-klouseer-epidemie wat Limpopo tans teister.

Kontaknommer: 082 490 6663

 

 

 

 

 

TammyBreedtLandbou

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!