President se drome ver verwyder van publiek se nagmerries

2019-06-25
Armand Cloete

President Cyril Ramaphosa se drome waaroor hy in sy staatsrede vertel het, is ver verwyder van die nagmerries waarmee die Suid-Afrikaanse publiek daagliks mee te make kry.

Een voorbeeld het die president self genoem: Van ʼn bejaarde vrou wat ʼn hele dag by ʼn kliniek moet wag vir medisyne. Net so sal die twee gesondheidsorgwerkers wat aan diens in die Pelomi-hospitaal verkrag is die president se drome kan deel. Of swanger vroue wie se lewe in gevaar gestel word deur ʼn ontoereikende ambulansdiens.

Vir die families van Moolman Meyer van Ermelo wat die afgelope maand met ’n panga doodgekap is of dié van Johan Pretorius van Nigel wat doodgebrand is tydens plaasaanvalle sal dit moeilik wees om uit hul nagmerries wakker te word en die president se droom te deel. Net so die slagoffers en families van die 180 ander plaasaanvalle hierdie jaar.

Inwoners van Manguang sit tot vier dae sonder water, net soos in Johannesburg. Die president verbind hom tot dienslewering, maar in Manguang is ʼn metro-polisiehoof ʼn jaar gelede aangestel en hy word betaal sonder enige teken van ʼn metro-polisiediens.

Hoe is dit moontlik dat soveel Vrystaatse munisipaliteite onder Artikel 139-administrasie steeds swak bestuur word? Een voorbeeld is Brandfort waar waterbeskikbaarheid seldsaam is en die inwoners hulle moeilik met die president se drome sal kan vereenselwig. So lank as wat onbevoegde amptenare in sleutelposte aanbly, so land sal die president se droom vir die publiek ʼn nagmerrie bly.

Intussen verwag die departement van openbare werke dat die privaatsektor betrokke moet raak in die bou en instandhouding van infrastruktuur, net om twintig jaar later dieselfde infrastruktuur wat hulle gebou en bestuur het, aan die staat oor te dra.

Dit terwyl die departement effektiewelik erken dat hy nie meer infrastruktuur kan bou of onderhou nie. Die nagmerrie sal bly so lank as die regering nie in staat is om basiese dienste te lewer nie soos in Manguang waar R140 miljoen bestee is aan ʼn ruimtelike beplanningsprojek rondom die N8-korridor sonder enige sigbare resultate.

Belangriker as die president se drome is dat kinders moedertaalonderrig ontvang om behoorlik te kan lees en skryf op tien en waar studente in hul eie taal universiteitsopleiding kan ontvang in een van die president se moderne droomstede.

Die Vryheidsfront wil saam bou aan ‘n droom vir Suid-Afrika. Maar die nagmerries moet eers stilgemaak word voordat enige droom sal realiseer.


Kontaknommers: 076 629 6219 / 065 801 7216


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!