President se aanstelling van McBride by staatsveiligheidsagentskap bevraagteken

2020-07-16
Dr Pieter Mulder

Die VF Plus is gekant teen president Cyril Ramaphosa se aanstelling van Robert McBride as hoof van die buitelandse tak van die staatsveiligheidsagentskap en die vraag moet gevra word hoe hy die nodige klaring vir die pos kon kry gegewe verskeie omstrede voorvalle uit sy verlede.

In 2006 is McBride, as metro-polisiehoof in Ekurhuleni, ná ‘n motorongeluk in hegtenis geneem en hy is aangekla vir bestuur onder die invloed van alkohol. Hy is in September 2011 skuldig bevind en is twee jaar gevangenisstraf opgelê. Die vonnis is opgehef nadat sy appèl in 2013 geslaag het.

Daar was verdere omstredenheid om McBride weens onder meer beweerde voorvalle van huishoudelike geweld nadat sy dogter in 2017 klagte van aanranding teen hom ingedien het. Die klagte is later laat vaar.

Dit is nie goed genoeg vir die staatsveiligheidsagentskap, waar ‘n onkreukbare rekord en ‘n hoogs geheime veiligheidsklaring verkry moet word, om ‘n persoon met só ‘n omstrede verlede aan te stel nie.

Die VF Plus sal vrae oor die geldigheid van hierdie aanstelling vra. McBride hoort nie in die staat se hoogste veiligheidsagentskap met soveel omstredenheid om sy kop nie en dit is onverstaanbaar hoe hy goedgekeur kon word vir die pos.


Navrae: 083 627 4397 / 065 801 7216

 

 

DrPieterGroenewald#CyrilRamaphosaStaatsveiligheidsagentskap#RobertMcBride

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!